Home » September » Aandagafleibaar

Aandagafleibaar

Gelukkig is die mens wat nie die raad van die goddeloses volg nie … maar wat vreugde in die wet van die Here vind en sy wet dag en nag prewelend opsê (Psalm 1:1-2).

Aandagafleibaarheid is die term wat gebruik word wanneer mense toelaat dat hulle aandag gedurig rondspring sodat hulle sukkel om dit by een ding te bepaal.

Hoewel dit vandag algemeen as ʼn sielkundige gesteldheid aanvaar word, is die neiging daartoe natuurlik so oud soos die berge.

Die gelowiges van die Ou Testament het reeds daarmee gesukkel; dit selfs as een van die groot struikelblokke in hulle gebedslewe ervaar. Weliswaar het die faktore of prikkels wat die gelowiges se aandag in hierdie vroeë tyd in beslag geneem en van God af weggelei het baie anders gelyk as wat dit vandag lyk.

Vandag is dit veral die oorvloed inligting wat ons lewe elke dag soos ʼn tsoenami binnestroom wat ons aandag onrustig in honderde rigtings stuur of weglei. Sodat ons nouliks tyd het om aan God te dink – wat nog te sê bid.

In Psalm 1 word hierdie afleidings direk verbind met die kringe of netwerke waarin ons elke dag beweeg en met veral die praatjies of stemme waarna ons daar luister. Tereg herinner die psalmdigter ons dat hierdie praatjies, die sogenaamde raad van die goddeloses, misleidend en skadelik kan wees en ons van God kan afkeer en vervreem.

Daarenteen is ons gelukkig as ons aandag deur God se woord in beslag geneem word, in so ʼn mate dat ons dit dag en nag prewelend opsê.

Mag ek vra: Kry jy nog werklik tyd hiervoor? Of is jou aandag die hele tyd besig om op die spreekwoordelike golwe van ons besige lewe rond te spring?

Spreek weer vandag, Here. Neem my aandag in beslag. Ontroer my hart. Amen.

Carel Anthonissen