Home » Oktober » My kosbaarste besitting

My kosbaarste besitting

Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet … (Jesaja 43:4).

Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my liefhet (Psalm 18:20).

Wat gemaak as jou hoogs talentvolle en briljante kind sukkel om sy voete te vind? Self by tye, tot almal se verleentheid, die pad verlaat wat jy met soveel moeite vir hom help voorberei het?

Dit was die dilemma van ʼn ma wat oor lang jare heen telkens na die rand van moedeloosheid gedryf is deur haar seun se onvoorspelbare en slegte gedrag – gedrag wat daartoe gelei het dat hy in ʼn stadium die skool moes verlaat.

Die keerpunt, so vertel sy, het gekom die dag toe sy hom ten einde raad gevra het om voor haar te kom sit, haar in die oë te kyk en mooi na haar te luister. Wat toe gebeur het, was vir albei ʼn verrassing.

Vir die eerste keer, vertel sy, het sy dit reg gekry om haar diepste gevoelens teenoor haar seun uit te spreek. Haar woorde was: “Ek het dit miskien nog nooit vir jou gesê nie, maar jy moet dit weet: Jy en jou broer is my kosbaarste besittings. Sonder julle is my lewe sonder betekenis.”

Die grootste verrassing vir hierdie vrou was dat haar seun, al het hy sy lewe lank by haar gewoon, hierdie kant van haar liefde vir hom nog nooit so duidelik gehoor of begryp het nie. Dit was soos ʼn nuwe, bevrydende lig wat vir hom opgegaan het, ʼn lig wat sy lewe en gesindheid oornag radikaal en ten goede verander het.

Miskien sukkel jy vandag om jou lewe op dreef te kry. Miskien is dit juis omdat niemand, selfs nie eens jou ouers, dit reggekry het om jou te verseker dat jy kosbaar is nie. Weet dan: Wat ook al gebeur of gebeur het, hoe jy ook al vandag oor jouself voel, in God se oë is jy kosbaar. God het ʼn diep behae in jou lewe.

Dit staan vas.

O Here, help my vandag om dit te glo: Ek is kosbaar en bruikbaar in u oë. Amen.

Carel Anthonissen