Home » Oktober » Help die ander slaag

Help die ander slaag

Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus (Galasiërs 6:2).

ʼn Vrou wat nooit geskei is nie, maar in ʼn stadium groot spanning in haar huwelik ervaar het, vertel aangrypend hoe raad uit ʼn onverwagte oord haar in dié tyd gehelp het.

Hierdie raad, wat ʼn vriend byna terloops aan haar gegee het, is vandag nog belangrik, oral waar verhoudings sukkel of verkeerd loop.

Sy woorde aan haar was: “Dink ʼn bietjie hoe dit vir julle albei sal wees as julle die ander nie soos ʼn mislukking laat voel nie, maar eerder soos ʼn mens wat suksesvol kan wees, wat dinge kan laat slaag.

“Waarom nie die ander se potensiaal om beter te vaar ondersteun en versterk nie, in plaas daarvan om die hele tyd op sý foute en jóú regte te fokus? Waarom nie die pad na versoening vir hom makliker maak nie, in plaas daarvan om klippe in sy pad te rol?”

Vandag nog, so vertel hierdie vrou, word sy bewoë wanneer sy hierdie vriend se woorde onthou. Destyds was sy raad nie net hoopvol en helend nie; dit het ook gehelp dat daar nuwe paaie van begrip en liefde in haar verhouding met haar man oopgegaan het.

Trouens, as gelowige het sy begin raaksien hoe Jesus mense gedurig op hierdie pad van heling, van wedersydse ondersteuning en bemagtiging, geplaas het.

Here, help ons vandag om die ander eerder te ondersteun as af te takel. Help ons om mekaar se laste te dra. Amen.

Carel Anthonissen