Home » Oktober » Leun na vore en luister

Leun na vore en luister

Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ʼn sondige man tuis!” Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ʼn kind van Abraham. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Lukas 19:7, 9-10).

Iemand merk onlangs op dat hy sekere mense glad nie kan verduur nie. Soos hy dit gestel het: “They are not my cup of tea.”

Hy vertolk natuurlik ʼn gevoel wat ons almal ken. Dit is dat daar mense is met wie jy moeilik assosieer of oor die weg kom. Mense van wie jy liewer afstand wil behou. Of soos Tevye, die groot en uitgesproke karakter in Fiddler on the roof, dit grappig uitgedruk het: “May the good Lord bless and keep him far, far away from me.”

Die vraag is natuurlik of so ʼn gesindheid of uitspraak evangelies is. Betaam dit ʼn gelowige om so te praat, te dink of te handel, selfs wanneer ons goeie rede daartoe het?

Wie na Jesus se lewe kyk, word onmiddellik getref deur sy ruimhartigheid, sy onvoorwaardelike liefde vir en aanvaarding van mense – ja, alle mense, spesifiek hulle wat veroordeel, verneder en uitgesluit is deur die godsdiensleiers van destyds. Trouens, die indruk is dat laasgenoemdes die enigstes was vir wie Jesus by geleentheid skerp veroordeel het. En tog, aan die kruis sou Hy bid dat sy Vader hulle ook sou vergewe.

Peter Berger, ʼn godsdiens-sosioloog, het by geleentheid geskryf dat ons, oral waar ons mense se stemme agter toe deure hoor, altyd weer sal nadergaan, vorentoe leun en luister. Deels omdat mense, wie hulle ook al is, áltyd interessant is.

Maar ook omdat ons, wanneer ons goed luister (en dieper kyk), beter sal verstaan wie hulle is. En selfs aangenaam verras kan word.

O Here, vergewe ons vandag ons eng en onverdraagsame harte en skep in ons opnuut u gesindheid van onvoorwaardelike liefde en begrip vir alle mense. Amen.

Carel Anthonissen