Home » Oktober » God se fluistering

God se fluistering

Na die aardbewing was daar ʼn vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ʼn fluistering in die windstilte (1 Konings 19:12).

Die digter Cas Vos skryf iewers, en hy haal in dié verband die sosioloog Max Weber aan, dat die bestaan van die mens tans deur “onttowering” gekenmerk word.

Met hierdie term bedoel hy dat waar die wêreld vroeër as die arena vir goddelike aktiwiteit en ingrype gesien is, hierdie bewussyn in ons moderne wêreld vervaag het. Dit was veral die ontnugtering van twee wêreldoorloë wat hiertoe bygedra het. Die wêreld het sy betowering verloor.

Hoewel verstaanbaar, is daar gelukkig nog mense wat, hoewel nie naïef nie, tog kinderlik, verwonderd, bly leef. En ons steeds daaraan herinner dat, ondanks onttowering, die God van die Bybel nie daarmee noodwendig van die toneel verdwyn het nie. Miskien verg onttowering juis vandag ʼn nuwe toekeer tot en dieper bewussyn van die misterie van God.

Verwonderd vra ʼn ou monnik in dié verband: “Could you have forgotten the presence of God in you? Come to rest, express quietly your longing and intention to experience God. And don’t be surprised to find God wherever you happen to be, at home, at work – in a street filled with the noise of traffic …”

Ek ken iemand wat God se teenwoordigheid só beleef. En dit omdat sy nie huiwer om haar elke dag, waar sy ook al kom, in stilte tot God te keer nie.

Om dan God se fluistering, soos Elia van ouds, in hierdie stilte te begin hoor. Totdat dit later oral vir haar hoorbaar is.

Here, leer ons vandag weer daardie stille inkeer waardeur ons die fluistering van u stem kan begin hoor. Amen.

Carel Anthonissen