Home » Oktober » God woon by ons

God woon by ons

Dit is U wat die hemelkoepel soos ʼn tentdoek gespan en vir U ʼn woonplek ingerig het oor die water daarbo (Psalm 104:2-3).

In Psalm 104 hoor ons nie net van God se skeppingswerk waarmee God in sy wysheid die aarde met baie dinge gevul het nie (Psalm 104:24).

Ons hoor ook dat God se skepping sy woonplek is. Jubelend en in ryk, metaforiese taal kondig die digter dit aan: hoe God die hemelkoepel soos ʼn tentdoek gespan en vir Hom ʼn woonplek oor die waters daarbo ingerig het. En dan boonop op die wolke ry, op die vleuels van die wind – die winde en weerlig wat sy boodskappers en dienaars is (104:2-4). 

Beslis word iets van die digter se kinderlike en voorwetenskaplike verstaan van die wêreld uit die vroeë tyd in hierdie beelde weerspieël.

Belangriker egter is die boodskap wat die digter hiermee wou oordra, veral aan ons wat soms so naarstig na God op soek is. Dié boodskap is dat God nader aan ons is as wat ons soms vermoed. Sy werke, ja, sy spore kan in die wonder van die natuur en die rykdom van lewe bespeur word. Daar in die aanbreek van ʼn nuwe dag, so sing Cat Stevens in die ou Christelike lied “Morning has broken”, breek die lig van Eden en van God se teenwoordigheid deur.

God is inderdaad, soos Willem Nicol dit gestel het, die bodem waarin ons gewortel is, die grond waarin ons kan floreer.

Die vraag bly egter: Weet ons dit? En bly leef ons met verwondering in Hom?

Here, die wêreld getuig elke dag van u heerlike teenwoordigheid onder ons. Help ons om dit raak te sien. Amen.

Carel Anthonissen