Home » November » Ons sal groter dinge doen

Ons sal groter dinge doen

“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan” (Johannes 14:12).

In Johannes 14:12 maak Jesus ʼn merkwaardige uitspraak, naamlik dat ons as sy dissipels in die toekoms nog groter dinge sal doen as wat Hy gedoen het.

Met die eerste aanhoor van Jesus se woorde klink dit ietwat vergesog. Totdat ons dieper daaroor nadink en veral die voortuitgang van ons kultuur en samelewing in oënskou neem. Hier is dit veral die verstommende ontwikkeling op die terrein van die mediese wetenskap wat ons opval. As gelowiges moet ons die waarde en betekenis hiervan nie onderskat nie.

In Jesus se tyd was sy genesingwonders een van die groot tekens dat die koninkryk van God onder ons is. Die wyse waarop medici vandag mense met ernstige hartprobleme, breindisfunksies, oogprobleme, en so meer, kan help, wys heen in hierdie rigting.

Trouens, dit is nie alleen nét so merkwaardig soos Jesus se genesingswonders nie. Dit vorm selfs deel daarvan en is in sekere sin selfs nog meer skouspelagtig en omvattend as Jesus se wonders.

Die grootste wonder is egter dat ons as gewone mense vandag kan deel hê aan hierdie genesende kragte van die koninkryk wat voortdurend deur deurbraak-navorsing en vaardige dokters ontsluit en benut word.

Voorwaar iets waarvoor ons God voortdurend kan dank en prys.

Here, dankie dat u koninkryk onder ons is en dat ons vandag daaraan kan deel hê danksy die ontwikkeling van die mediese wetenskap. Amen.

Carel Anthonissen