Home » November » Die ellende van onreg en onverwerkte skuld

Die ellende van onreg en onverwerkte skuld

Ellende wag vir julle wat huis na huis inpalm, die een plaas na die ander in die hande kry, totdat daar geen plek vir die ander oorbly nie en net julle die grondeienaars in die land is (Jesaja 5:8).

Hoe ʼn gemeenskap se skewe en selfsugtige keuses tot skaamte, skuld en grootskaalse ellende kan lei, word aangrypend in die Hongaarse regisseur Ference Török se film 1945 uitgebeeld.

Dié film speel af kort ná die Tweede Wêreldoorlog in ʼn Hongaarse dorpie. Tydens die oorlog het prominente gemeenskapslede, onder andere die predikant en die stadsklerk, meegedoen aan die uitlewering van plaaslike Jode aan die Nazi’s. Erger nog, baie het daarna beslag gelê op die Jode se eiendom, huise en winkels en dit vir hulle toegeëien.

Dit is dus geen wonder dat totale paniek ontstaan wanneer twee Jode op ʼn dag met twee kiste in die dorpie opdaag nie. Was hulle vriende van die uitgelewerde Jode wat nou hulle eiendom kom terugeis het? Ja, wat kom maak hulle hier? In groot angs en onsekerheid gedompel, begin sommige oorhaastig die gesteelde goedere versteek, terwyl ander onderling skuld beken en dit summier wil teruggee.

Die ironie van die storie is dat die twee Jode se besoek relatief onskuldig was. Hulle wou bloot die laaste gedenkwaardighede van gestorwe geliefdes in die dorpie kom begrawe. Maar hulle teenwoordigheid saai nie net paniek nie; dit bring ook verleentheid, twis en uiteindelik rampspoed en ellende wanneer ʼn gesiene inwoner selfmoord pleeg, ʼn beplande huwelik skeefloop, die Joodse winkel afbrand en van die jongmense – wat nou eers van hulle ouers se skande hoor – summier padgee.

Só gaan dit wanneer skuld, ook kollektiewe skuld, nie erken, deurgewerk en reggestel word nie. Dan, in die woorde van Jesaja 5:8, is ellende ʼn volk of gemeenskap se voorland.

Here, bewaar in hierdie tyd van onsekerheid ons gemeenskap, ja, ons land, van die ellende wat voortspruit uit hebsug, onreg en onverwerkte skuld. Amen.

Carel Anthonissen