Home » November » Reguit, maar welwillend

Reguit, maar welwillend

ʼn Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly (Spreuke 27:5).

Die afgelope week moes ek ʼn brief skryf waarin ek iemand se uitnodiging tot ʼn ontmoeting en gesprek oor konflik waarin hy betrokke is, moes afwys.

Ek het goeie redes hiervoor gehad, en alhoewel ek agterna ietwat sleg gevoel het, het ek geweet dit was die regte ding om te doen.

ʼn Goeie vriend van my het later my besluit ondersteun en bevestig met die woorde: “ʼn Reguit en eerlike woord of antwoord kan pynlik wees, maar is dikwels tot heil van die ander. In sekere omstandighede is sulke reguit woorde selfs ʼn vorm van goedhartigheid (kindness) en welwillendheid.”

Natuurlik is daar ʼn manier van reguit praat wat kwaadwillig, kwetsend en neerbuigend kan wees. Maar wie in liefde reguit praat, hulle mening of opinie welwillend en eerlik aan die ander oordra, kan ook ontdek dat dit ʼn helende uitwerking op hulle kan hê.

Selfs ʼn streng maar goed bedoelde bestraffing kan heilsaam wees, meer selfs as liefde wat nie openlik betoon word nie (Spreuke 27:5).

Beslis raad om oor na te dink.

Here, gee ons vandag weer die regte woorde wanneer ons mense help. Help ons om nie terug te deins van die waarheid nie. Amen.

Carel Anthonissen