Home » Desember » Wanneer kinders afstand neem

Wanneer kinders afstand neem

Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes (1 Petrus 4:8).

Dit is nie ʼn vreemde verskynsel dat baie kinders, veral in hulle adolessente jare, ʼn irritasie met hulle ouers ontwikkel en dan meer krities raak oor hulle manier van doen nie.

Sekere kinders kom selfs in opstand teen hulle ouers en neem afstand – dikwels vir baie jare.

Vir die meeste ouers is hierdie soort vervreemding ʼn diep ontstellende ervaring. Veral wanneer hulle voel dat hulle opofferings vir hulle kinders groot en altyd goed bedoel was.

ʼn Vrou wat lank hierdie kruis moes dra, deel onlangs ʼn wyse en troosvolle woord hieroor. Haar gevoel is dat ouers geduldig en positief moet bly, want kinders word groter en meer volwasse. Teen die tyd dat hulle ʼn eie werk en kinders het, is die kans goed dat hulle hulle ouers se pad met hulle beter sal verstaan. Dat hulle hulle ouers nuut sal ontdek en waardeer.

Vir haar was dit so en sy is vas oortuig dit vir ander ouers ook kan gebeur. Solank dié ouers nie moed verloor en hulle kinders onnodig bly verwyt nie.

Kortom, ons word, in Petrus se woorde, geroep om ons kinders steeds hartlik lief te hê en te bly glo dat die liefde baie sondes kan bedek.

Here, ons bid vandag vir baie ouers en kinders wat van mekaar vervreem is. En ons vra dat U vir ons en vir hulle meer van u liefde sal gee. Amen.

Carel Anthonissen