Home » Desember » As die kragte van die hemelruim ontwrig word

As die kragte van die hemelruim ontwrig word

“Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word” (Lukas 21:26).

Lukas 21:25-36 vorm deel van Jesus se sogenaamde profetiese rede.

In dié rede kry ons ʼn blik op die katastrofiese gebeure wat hulle voortdurend in ons geskiedenis herhaal. En wat die mensdom gewoonlik verskrik, verward en onseker laat.

In die tyd van die apostels was hierdie gebeure die gerugte van opstande en oorloë, van onrus en die val van groot stede, van aardbewings en vloede, van chaos en verskrikking. En dan natuurlik alles wat daarop volg wanneer die kragte van die hemelruim, soos Jesus dit stel (Lukas 21:26), skielik ontwrig word – armoede, hongersnood, siekte en die vlug van die talle ontheemdes na ander lande.

Klink dit nie bekend nie? Asof Jesus netsowel kommentaar op ons tyd kon gelewer het?

Opvallend is dit dat wanneer hierdie donker skaduwees só oor die lewe en die wêreld val, ons saam met gelowiges oor die eeue heen begin verlang en roep na uitkoms, na ʼn nuwe orde waarin onreg, korrupsie en geweld nie langer die toon aangee nie, maar wel geregtigheid en vrede, eerlikheid en offervaardigheid. Kortom, ons verlang dat die waardes van God se ryk, soos Jesus dit vir ons voorgeleef het, opnuut sal posvat en seëvier. Ja, dat Jesus self deur sy Gees by ons sal wees.

Advent is ʼn tyd waarin van ons gevra word om opnuut aandag aan hierdie donker kante van die geskiedenis en van ons eie lewe te gee, asook aan die verlange wat dit by ons opwek.

In dié opsig stel Advent vanjaar weer unieke uitdagings.

O Here, leer ons vanjaar weer die uitdagings wat Advent bring. Versterk ons verlange na U en na die koms van u ryk. Amen.

Carel Anthonissen