Home » Desember » ʼn Lied van verlange

ʼn Lied van verlange

Ek soek na U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ʼn dor en droë land, ʼn land sonder water (Psalm 63:1-2).

Volgens die teoloog Debie Thomas is daar in die lig van Jesus se dramatiese voorspellings in Lukas 21:25-36 ʼn tweede belangrike uitdaging of uitnodiging wat Advent aan ons bied.

Dit is om in voeling te kom met ons diepste verlangens, dit onbeskaamd te erken en sonder enige terughouding uiting daaraan te gee.

Dit is tog wat die woord Advent, oftewel “koms”, in ons wakker maak – ons openlike en uitgesproke verlange na Jesus se koms, na sy Gees en na die deurbraak van sy ryk van vrede en geregtigheid, liefde en vergifnis. Nie net in ons gebroke en bedreigde wêreld nie, maar ook in ons verslae harte.

Mooi druk Thomas dit uit:

“Advent is the season when longing makes sense. When it’s okay to say we are hungry, thirsty, lonely, empty, unfinished, or unhoused. In Advent, we want, and we want fiercely. We sit in darkness, longing for light. We sit in exile, longing for home. We sit with aching, empty arms, waiting to cradle a life that’s still unformed, still hidden, still in process.”

Geen wonder een van die mooiste Adventsliedere se woorde lui nie: “O Christus ons verlange, U het ons heil gebring. Sal ooit ons jubelsange u lof na waarde sing? Vervul in welbehae ons harte met u Gees; skenk ons in hierdie dae ʼn ware Christusfees.”

En selfs al sing ons sleg of vals, kan ons dié lied ten minste in ons binneste begin neurie. Daar waar ons verlange pols.

O Christus ons verlange, vervul in welbehae ons harte met u Gees. Amen.

Carel Anthonissen