Home » Desember » Selfgenoegsaam of weerloos?

Selfgenoegsaam of weerloos?

In die tyd toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het daar ʼn woord gekom van God na Johannes, seun van Sagaria, wat in die woestyn was (Lukas 3:2).

Lukas 3:1-6, wat gaan oor die optrede van Johannes die Doper, begin met die vermelding – ʼn mens sou selfs kon sê die kontrastering – van twee groepe.

Aan die een kant is daar die name van die heersende politieke en geestelike leiers van daardie tyd (Lukas 3:1-2). ʼn Mens sou dit die wêreld van mag, rykdom en status kon noem.

Aan die ander kant is daar die wêreld van die woestyn waar Johannes die Doper vertoef en gepreek het (Lukas 3:2). En nou hoor ons hoe die woord van God dáár tot Johannes kom, hom dáár bereik en hom dáár tot aksie inspireer en beweeg.

Weliswaar was dit nie so ongewoon nie. Want deur die Ou Testament heen was die woestyn die plek waar God sy volk ontmoet en gelei het, waar God sy verhouding met hulle herstel en vernuwe het (Hosea 2:13-22).

Die woestyn is inderdaad die plek waar mense weerloser en afhankliker voel, waar daar geen materiële of sosiale sekuriteite bestaan nie en waar hulle alleen maar op God se genade, ja, op sy verlossende woord aangewys is. Hiér ontvang Johannes sy roeping; hiér hoor hy waartoe hy bestem is.

Die vraag is: Waar speel jóú lewe hom tydens hierdie Adventstyd af? Is dit in die geselskap van daardie vernames, magtiges en invloedrykes wat selfgenoegsaam skynbaar sonder God kan klaarkom? Of is dit in die spreekwoordelike woestyn, daardie plek waar jy jou weerloosheid voor God en jou afhanklikheid van God besef?

En daarom oop is vir ʼn woord van God!

O Here, in dié tyd kom ek opnuut in afhanklikheid na U toe. Wees my genadig! Spreek opnuut ʼn woord tot my! Amen.

Carel Anthonissen