Home » Januarie » Sommer in nommer?

Sommer in nommer?

Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne (Jes 43:1).

Hoeveel nommers het jy waarmee jy jou kan identifiseer? ʼn Identiteitsnommer, paspoortnommer, bankrekeningnommer, kredietkaartnommer, mediesefondsnommer, pensioenfondsnommer, motorregistrasienommer, kieserslysnommer, inkomstebelastingnommer, huistelefoonnommer, selfoonnommer?

Dit is natuurlik alles by geleentheid baie nuttig, maar op ʼn dag begin dit vir jou voel of jou naam, of jy as persoon, verswelg word deur dié stortvloed syfers.

Hoe belangrik ook al vir die gladde verloop van ons lewe, is dié nommergeëry ook ʼn simptoom van ʼn wêreld wat koud en onpersoonlik geraak het. Mense word nommers en word soos nommers behandel. Later voel jy soos ʼn stukkie statistiek. Soos net nóg ʼn kolletjie tussen die biljoene mensekolletjies op Planeet Aarde. Wat maak jou anders, wonder jy, as die miere op die grond, of die sandkorrels? Vervangbaar, misbaar. Onbelangrik.

Maar God tel mense nie soos nommers nie. Hy tel eerder die hare op ons kop (Matt 10:30). Hy sien mense raak, élke mens. In liefde. Ook vir jou. Hy weet waar jy woon, waar jy werk of skoolgaan. Hy is bewus van alles wat jou frustreer of bang of bly maak. Hy ken jou naam. Terwyl die Bose mense wil ont-menslik, van hulle bloot nommers, bloot “gevalle” vir die verdoemenis wil maak, sê God: “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (Jes 43:1). Meer nog: Hy gee jou ʼn nuwe naam: Christen. Langs dié naam hoef jy geen nommer te skryf nie.

God sien mense, élke mens raak, in liefde. Ook vir jou.

Vader, U wat my sekondes getel het, het ook die hare op my kop getel. Dankie dat ek by U in tel is. Amen.

Johan Cilliers