Home » Januarie » Kamoefleer-Christene

Kamoefleer-Christene

“Julle is die lig vir die wêreld” (Matt 5:14).

Baie Christene is verkleurmannetjies of verkleurvroutjies. Hulle kamoefleer so maklik. Maar dit is nie ʼn kuns wat óns uitgedink het nie. Verkleurmannetjies doen dit al eeue lank. Hulle smelt in by hulle omgewing, by die groen, die grys en die geel van die lower en die aardsheid van die grond. Jy sien hom en tog ook nie! Kul jou hier en kul jou daar!

Ongelukkig is baie Christene só dat ʼn mens nooit sou kon raai dat hulle anders as hulle omgewing is of behoort te wees nie. Hulle lyk nes die ander mense. Hulle kruip weg. Hulle geloofsbelydenis word nooit in die openbaar gedoen nie. Miskien nog Sondae in die kerk, maar nie in die week en in die wêreld nie. Hulle dóén veral nie wat hulle bely nie. Hulle smelt eerder saam met die res …

As jy jouself Christen wil noem, moet jy weet dat geloof in Christus ʼn openbare aangeleentheid is. Jy moet jou daarop voorberei dat jy sigbaar gaan word. Christene is uit-staande mense. Om jou kruis op te neem en Jesus te volg, is beswaarlik iets wat jy met kamoefleerdrag aan kan doen. ʼn Kruis-Christen kan nie ook ʼn kamoefleer-Christen wees nie. Ons is immers die lig vir die wêreld. “ʼn Stad wat op ʼn berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ʼn mens nie ʼn lamp op en sit dit onder ʼn emmer nie maar op ʼn lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis” (Matt 5:14-15).

ʼn Christen se “kleur” is dié van lig. God se lig.

Wie glo, word sigbaar, word ʼn uit-staande Christen.

Vader, ek kom gee my kamoefleeruniform in en neem my kruis op. Amen.

Johan Cilliers