Home » Januarie » Getrooste twyfel

Getrooste twyfel

Wie hoop nog op wat hy reeds sien? (Rom 8:24).

Baie mense is onder die wanindruk dat geloof soos ʼn pil werk. As ek dié pil sluk – so meen baie – sal alle swaarkry uit my lewe verdwyn. Soos ʼn pynpil wat ʼn hoofpyn laat verdwyn.

Daar is selfs ʼn hele teologie rondom hierdie geloof opgebou, die sogenaamde voorspoedteologie. Dit leer dat, indien ʼn mens goed en reg glo, jy net seën en voorspoed vorentoe kan verwag. Glo net goed genoeg, sê hierdie soort teologie, dan word jou siek liggaam in ʼn kits gesond en jou nadelige bankbalans styg oombliklik uit die rooi. As jou geloof net reg is, ontvang jy die beste van die bestes: die mooiste huis, die nuutste motor, die gelukkigste gesin, die beste lewensomstandighede.

Is dit waar? Natuurlik kán die Here God dit vir ons doen, en natuurlik géé Hy vir ons die beste in die lewe. (Al stem ons idee van wat die beste is nie altyd ooreen met Syne nie.) Maar ons weet tog ook dat ons nog maar gered is in hoop. En: “Wat ʼn mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien?” (Rom 8:24). Al word die “regte” geloof dus ook uit genade aan ons geskenk, sal ons in hierdie lewe nog steeds geloofstryd ervaar, en geloofspanning, en geloofsinspanning. Dis as’t ware deel van die hoop en dus van die geloof.

Niemand minder nie as Martin Luther, wat so gloeiend kon skryf oor geloofsekerheid, skryf ook oor twyfel. Maar ook oor die troos wat God gee. Volgens hom is ware geloof niks anders nie as getrooste twyfel! Mag jy vandag getroos word in jóú twyfel …

Selfs al is jy ʼn gelowige sal jy nog geloofstryd, geloofspanning en twyfel ervaar.

Vader, hier is ek, getrooste twyfelaar – wat glo. Amen.

Johan Cilliers