Home » Januarie » Dodelike geloof

Dodelike geloof

“Ek weet dat my Losser leef” (Job 19:25).

ʼn Siek man het in die middel van die nag wakker geword en in die donker begin rondtas na die botteltjie pille wat hom as’t ware aan die lewe gehou het. Maar ongelukkig het hy die verkeerde botteltjie raakgevat. Omdat hy te swak was om die lig aan te skakel, het hy maar in goeie trou, “in die geloof” dat hy die regte medisyne sal drink, gehandel … en die verkeerde pille gesluk. Die volgende oggend is hy dood aangetref.

Geloof kan dus soms verkeerd, selfs dodelik, wees. Dit kan op die verkeerde dinge gerig wees. Soos die siek man wie se “geloof” op die verkeerde pille gerig was, en in plaas van sy redding eerder sy ondergang bewerkstellig het.

Nee, jy moet weet wat (in Wie) jy glo. Geloof sonder kennis is net so dood (en dodelik!) soos geloof sonder werke. Hoe meer jy van God te wete kan kom uit die natuur en die geskiedenis, hoe beter. Dis egter nie genoeg nie. Jy moet ook, en veral, van God leer uit sy Woord, en hoor van sy liefde vir jou. Jy moet soos Job kan sê: “Ek weet dat my Losser leef” (Job 19:25). Jy hoef nie, kán nie alles van God weet nie. Maar as jy weet dat Hy jou Verlosser is, sal dit jou lewe verander. Daarvoor kan jy Hom maar vertrou.

Geloof sonder kennis is net so dood – en dodelik – soos geloof sonder werke.

Vader, ek weet nie so baie soos ander mense van U nie. Dankie dat wát ek weet, genoeg is om my lewe te verander. Daar is so baie dinge wat my van U af kan weghou. Dankie dat dit nie genoeg is om U van my af weg te hou nie. Amen.

Johan Cilliers