Home » Januarie » ʼn Ja-nee-geloof

ʼn Ja-nee-geloof

“U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 16:16).

ʼn Beroemde sweefstokarties wou op ʼn dun koord oor ʼn hoë waterval stap. Honderde meters onder hom was daar ʼn bruisende watermassa, en sy enigste hulpmiddel was ʼn balanseerstok. Duisende mense het saamgedrom naby die punt van waar hy sou begin loop. ʼn Vinnige meningspeiling is onder die omstanders gedoen. Die vraag was: Glo jy dat die arties veilig aan die ander kant sal kom? Omdat dié kunstenaar wêreldbekend was vir sy verstommende toertjies, was 90% van die antwoorde ja. Toe word ʼn tweede opname gedoen. Die vraag was dié keer: Sal jy op die arties se rug klim dat hy jou oordra? Sonder een uitsondering was die antwoord nee!

Só kan “geloof” ook wees: Dit kan bestaan uit kennis, maar nie noodwendig vertroue insluit nie. Jy kan ja sê op sekere geloofsbeginsels – en jou tog nooit in die praktyk op Christus verlaat nie. ʼn Mens kan baie oor geloof praat, en tog niks met Christus waag nie.

Maar geloof vra ʼn oorgawe van jouself wat niemand anders vir jou kan doen nie. Niemand kan namens jou glo nie. Nie jou ouers, jou kinders, jou predikant of jou kerk nie. Die geloof van jou vrome voorvaders kan jou nie oor die kloof na God toe dra nie. Korrekte belydenisse alleen kan jou nie red nie. Daar kom ʼn oomblik wanneer jy jou op die krag en verlossingswerk van Christus moet werp. Wanneer jy Hom só vertrou dat jy by wyse van spreke gewillig is dat Hy jou oor die tou bo die afgrond dra. Die dag wanneer jy soos Petrus sê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 16:16), moet jy weet dat jy jou hele lewe aan Hom prysgee. Dit moet ʼn eerste maal gebeur én elke dag van jou lewe. Wil jy dit nie nóú doen nie?

ʼn Mens kan baie oor geloof praat, en tog niks met God waag nie.

Here, dra my. Amen.

Johan Cilliers