Home » Januarie » Sonneblomme of sondeblomme?

Sonneblomme of sondeblomme?

Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale (Mal 4:2).

Met die woorde “Ek glo in God …” kom ons by die hart van ons geloof. Oor die wonderwoord God kan geen mens ooit uitgepraat raak nie. Jy kan Hom maar net prys! En aanbid.

Daar is ʼn natuurbeeld wat ons verhouding met God mooi illustreer: die kleurvolle toneel van ʼn veld vol sonneblomme, almal met hulle gesigte gedraai na die son – die bron van hulle bestaan. Selfs hulle naam ontleen hulle aan die son! Maar as die son sak of agter die wolke verdwyn, buig die blomme na onder. Skielik lyk hulle verskrompel en verlep.

So is dit met ons. God se son van genade skyn oor ons. Ons doel is om ons kop na God op te tel en Hom te aanbid. Maar die sonde in ons lewe is soos ʼn wolk wat voor die son inskuif. Dit tas ons verhouding met God aan. Dan kyk ons nie meer op na Hom nie, maar bly soos verlepte sonneblomme op onsself ingekeer. As ons slegs ons eie belange op die hart dra, mis ons ons lewensdoel. Dan is ons nie meer sonneblomme nie, maar sondeblomme. Dan blom ons nie meer mooi en kleurvol vir God nie, maar word ʼn verlepte misoes.

God het ons geskep en verlos om Hom te prys. Dit is die diepste sin van ons bestaan. Selfs wanneer ons skadutye van beproewing, pyn en neerslagtigheid beleef, hoef ons nie soos sonneblomme neer te slaan nie. Want ons God se son gaan nooit onder nie. Ons kan selfs dán na Hom bly opkyk, want vir dié wat eerbied het vir sy Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale (Mal 4:2). Daarom, kyk op … na God!

Kyk op … na God!

Vader, verwarm my gesig met u lig. Amen.

Johan Cilliers