Home » Januarie » Vakuum waar God moes wees

Vakuum waar God moes wees

Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie (Ps 73:25).

“God het ons vir Homself gemaak, en ons hart bly onrustig tot dit rus vind in U.” Só lui die beroemde woorde waarmee die ou kerkvader Augustinus die diepste hartsbehoefte van alle mense beskryf het: om in God rus te vind. In ons onderbewussyn, hoe verdronge ook al, is daar dié wete: Sonder God kan ek nie. Al het die sonde dit feitlik heeltemal uitgewis, is daar in elke mens ʼn vae aanvoeling vir God, ʼn onvervulde verlange, ʼn soeke …

Nou is dit ironies dat mense dié verlange probeer stil met alles – behalwe God. Ons probeer dit vul met goeie dinge: man, vrou, kinders, familie, vriende, beroep, ideale, besittings. Ook met minder goeie dinge: hebsug, mag, wellus, verwronge vorme van sensasie en plesier. Wie God nie in hulle lewe het nie, probeer die vakuum waar God moes wees met allerlei moderne afgode volprop. Maar dit kon geen mens nog ooit volkome bevredig of werklik gelukkig maak nie. Vir ware vervulling moet ons soos die psalmis kan sê: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie” (Ps 73:25).

God is natuurlik meer as bereid om die vakuum in ons lewe te vul, om ons diepste verlange te stil. Trouens, voor ons nog na Hóm begin soek het – toe ons nog verlore was – het Hy gekom om óns te soek, en ons te vind. Want Hy verlang ook na ons. Ja, God verlang na jóú!

In die mens se onderbewussyn, hoe verdronge ook al, is daar dié wete: Sonder God kan ek nie.

Vader, hier is ek, leeg, net met my sondelas. Vul my met u volheid. Amen.

Johan Cilliers