Home » Januarie » God vir ons

God vir ons

God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? (Rom 8:31).

God is anders as ons. Sy “eienskappe” is anders. Die hemel is sy woonplek. En tog kan geen woonplek Hom bevat nie. Hy is die Skepper van hemel en aarde, van die mense en die diere. Maar ook van die kleinste besonderhede: van die fynste kleurnuanse in ʼn blomblaartjie tot die geringste goggatjies in die grond. Hy is by sy skepsels en tog ook teenwoordig anderkant die eindpunt, anderkant die ander kant van die heelal. Hy is groter as ons denke, hoog bo ons gedagtes. Tussen ons en Hom is ʼn oneindige kwalitatiewe onderskeid. God is in ʼn ander “klas” as ons.

Maar dan is die woord klas al weer te menslik. God val in geen klas nie. Hy is onvergelyklik. Hy is eenvoudig net … gróót!

En tog is hierdie grote God vír ons! En, as God vír ons is, wie kan dan teen ons wees? (Rom 8:31). God gee om vir mense, ook vir die geringes en onbelangrikes, dié wat eensaam en verstote is.

God sien nie met groter sorg om na sommige as na ander nie. Hy dink aan ons almal (Ps 8:5). Ons vorm deel van sy gedagtegang. Hy het ons uitgedink. Ons is sy breinkinders! God is nie só anders, só groot, só besig dat Hy nie aan ons dink of nie vir ons omgee nie. Nee, die grote, gans anderse God dink … aan jou!

God is nie só anders, só groot, só besig dat Hy nie aan ons dink of vir ons omgee nie.

Vader, vir U moet die mense op die aarde seker soos miljoene miertjies lyk. Ek is een van hulle. En tog is geen mens vir U soos ʼn mier nie. Ons is mense, u mense, van wie U alles weet. U laat nie op my trap nie. Amen.

Johan Cilliers