Home » Februarie » Abba, Pappa

Abba, Pappa

Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader (Rom 8:15).

God is groot. God is nie ʼn mens nie. Hy is in die hemel en ons op die aarde. Die Bybel noem Hom ʼn verterende vuur (Heb 12:29). Ons mag nooit met Hom familiêr probeer raak nie. En tog is ons familie!

Dit is die oorstelpende wat Jesus ons kom leer het: Ons mag ons God as “Vader” aanspreek. Ons mag sê: “Ons Vader wat in die hemel is …” (Matt 6:9). Want God is na sy wese Vader. Dit is die eerste waarheid wat die Apostoliese Geloofsbelydenis oor Hom bely. Dit is opmerklik dat daar in hierdie belydenis tussen die woord “God” en “Vader” geen komma is nie. Dit vloei aaneen. Dit wil benadruk: God is Vader!

Dit herinner ons aan ʼn woord van Paulus dat ons deur die Gees “Abba!”, dit wil sê, “Vader”, mag roep (Rom 8:15). Hierdie Abba is ʼn Aramese troetelnaam wat die beste vertaal kan word met iets soos “Pappie” of “Pappa”. Ons kan God aanspreek as Pappa!

God is Pappa in die oortreffende trap. Hy is die bron van alle goedheid. Hoeveel te meer as aardse vaders wil Hy nie vir ons die beste gee nie (Matt 6:30). Soms vra ons Persiese matte vir ons kerkers terwyl God ons eerder uit dié kerkers wil verlos. Want Hy weet wat die beste vir ons is. Ons kan op Hom vertrou om vir ons te sorg; ons kan berus in sy beskikking oor ons lewe. Ek en jy kan elke dag in sy arms in hardloop en, soos kinders maar maak, roep: “Abba, Pappa!”

Ons mag nooit met God familiêr raak nie, en tog is ons familie. Hy is ons Vader.

Vader, ek is u kind. Dankie dat U my in u arms optel. Altyd. Amen.

Johan Cilliers