Home » Februarie » Vader kom!

Vader kom!

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook (1 Joh 3:1).

Toe hy nog ʼn kind was, so vertel die Duitse teoloog Walter Luthi, het hy altyd middae saam met die buurkinders in die straat voor hulle huise gespeel.

Elke middag teen sonsondergang het die kinders onrustig begin raak en kort-kort straatop geloer. Een van die seuns het gewoonlik by die bopunt van die straat stelling ingeneem. As hy hulle pa sien aankom het, het hy waarskuwend geroep: “Vader kom!”

Dan het die kinders soos hoendertjies voor die aanval van ʼn roofvoël uitmekaargespat. Want nie een van hulle wou deur dié vader gesien, aangespreek of veral aangeraak word nie.

Waarom? Hy was ʼn slegte vader, ʼn ongevoelige man met ʼn harde hart. Hoe anders is ons hemelse Vader! Vir Hom hoef ons nie weg te hardloop nie.

Om deur Hom raakgesien, aangespreek en aangeraak te word, is die wonderlikste wat met ʼn mens kan gebeur. Dit bevestig telkens dat jy sy kind is, vir Hom van onskatbare waarde.

Daarom roep die apostel Johannes met verwondering uit: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh 3:1). Nee, óns Vader is nie ongevoelig nie. Hy het nie ʼn harde hart nie.

Inteendeel!

Sy hart is sag. Soos dié van ʼn liefdevolle pa.

Om deur jou Vader raakgesien, aangespreek en aangeraak te word, is die wonderlikste ding wat met jou kán gebeur.

Vader, dankie dat ek nie hoef weg te hardloop wanneer U na my toe kom nie. Dit is eerder U wat na my toe aangehardloop kom wanneer ek soos die verlore seun uit die varkhok na U toe terugkeer. Amen.

Johan Cilliers