Home » Februarie » Wanneer die hamerhoue hard voel

Wanneer die hamerhoue hard voel

Is daar miskien ʼn kind wat nie deur sy vader getug word nie? (Heb 12:7).

Dirk Opperman se bekende digbundel Engel uit die klip kry sy titel van die antwoord wat ʼn beroemde beeldhouer eendag gegee het toe daar aan hom gevra is hoe hy dit regkry om sulke pragtige beelde uit vormlose, dooie marmer­blokke te skep.

“Ek benader elke blok met die vaste geloof dat daar ʼn engel binne-in is wat deur my bevry moet word,” was sy antwoord.

Presies só hanteer die Vader ons. In sy oë is ons egter nie marmerblokke nie, maar mense. En Hy is ʼn groter “kunstenaar” as wat enige mens ooit kan wees.

Soms moet die Vader die hamer en beitel inlê om ons te vorm, om ont­slae te raak van die rowwe kante van ons na­tuur. Hebreërs 12:7-9 raai ons aan om ons nie hierteen te verset nie: “Verdra die tug as op­voeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ʼn kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?”

Die Vader het ʼn plan met elk van sy kinders se lewe. Hy wil nie ʼn engel in ons laat vorm aanneem nie, maar die beeld van sy Seun, Jesus Christus. Laat ons Hom as Vader daarmee vertrou. Selfs al voel die hamerhoue hard en die beitelpunt skerp.

Die Vader hanteer ons nie soos marmerblokke nie, maar soos mense, Sy mense.

Vader, hier is ek. Vorm my. Breek my, as dit moet. Solank dit net U is wat die hamer en beitel hanteer. Amen.

Johan Cilliers