Home » Februarie » Verbod op God

Verbod op God

Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle (Ps 2:4).

Eendag was daar ʼn magtige koning wat alle godsdiens in sy koninkryk met wortel en tak wou uitroei. Hy wou daarmee probeer “bewys” dat hy die groot koning is, en nie God nie. Toe vaardig hy ʼn bevel uit dat God, op las van die koning, verbied word om enige wonderwerke in daardie land te doen. Dié proklamasie is oral in die koninkryk gehoor. Deur die hele land is dit teen mure, bome en kennisgewingborde opgeplak …

En het God se wonders opgehou om te gebeur? Nie een enkele sekonde nie! Die volgende dag het die son weer opgekom. Mense het wakker geword en geleef. Gebede is beantwoord, siek mense het gesond geword, skynbaar onoorkomelike probleme is opgelos. En veral het daar oral in die koninkryk die wonder plaasgevind van skuldvergifnis en van sondaars wat kinders van God word. Ten spyte van al die koning se pogings. Onstuitbaar.

God en sy werke kan nie gekeer word nie.

Mense en magte kan nie aan God voorskryf nie. In sy almag neem Hy die inisiatief. Hy kan selfs bose en hoogmoedige konings in sy diens gebruik. Sonder dat hulle dit besef. Verniet, sê Psalm 2:2-4, kom die konings van die aarde teen die Here in opstand. Tevergeefs span hulle saam …

Dat dit so is, is genade. En dat dit in my en jou geval óók so is, is ʼn wonderwerk. Want God het Hom ook nie laat stuit deur ons onwilligheid en hoogmoed en opstand teen Hom nie. Al die bevele wat teen Hom uitgevaardig is en oral in ons hart vasgespyker was, het Hy met sy liefde platgevee. Goddank.

God kan nie gekeer word nie. Mense en magte kan nie aan Hom voorskryf nie.

Vader, vul my kennisgewingbord met u agenda. Amen.

Johan Cilliers