Home » Februarie » God se luukse

God se luukse

As ek u hemel aanskou … wat is die mens dan? (Ps 8:4-5).

Die heelal het nie toevallig tot stand gekom nie. Dit het alles begin toe God lewe, álles, uit niks geskep het. God se skeppingsdaad was iets onvoorstelbaar wonderliks: Met sy “vingers”, sê Psalm 8:4, het God die hemel en die aarde gemaak, die son, die maan en die sterre; ruimte, krag, tyd, lig; die diere, die mense.

Die grootheid van dié heelal laat ons sprakeloos. Astronome sê daar is meer as duisend miljoen sterrestelsels, elk gemiddeld 20 000 ligjare in deursnit. Baie van hulle is meer as twee miljoen ligjare van mekaar af … Ondenkbaar.

ʼn Piepklein deel van dié enorme skepping is ons planeet Aarde. Tog is dit tot in die fynste besonderhede vol soveel skoonheid dat dit jou asem wegslaan: die sonsondergang, die voëls in hulle vlug, velde vol blomme, berge met aangrypende majesteit.

God het niks hiervan nodig gehad nie. Hy het dit as’t ware as ʼn luukse geskep, vir sy genieting en eer. Daarom het alles, ook my en jou lewe, ʼn doel. Ons is geskep sodat … ons met God in gesprek kan tree, tot sy eer kan leef, sy beelddraers kan wees. Niemand hoef ooit te twyfel of die lewe sinvol is nie. Die sinvolste wat ooit kon gebeur, was die skepping. God wou hê dat hier ʼn wêreld moet wees, dat ek en jy gebore moes word, en vandag nog moet leef. Die lewe, hierdie dag, is ʼn gawe uit die hand van die Skepper.

Néém dit! Lééf dit!

God wou hê dat hier ʼn wêreld moet wees, dat ek en jy gebore moes word, en vandag nog moet leef.

Vader, mag ek vandag vir U ʼn genot en ʼn eer wees. Amen.

Johan Cilliers