Home » Februarie » Afgodsfabriek

Afgodsfabriek

… hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien (1 Tess 1:9).

Dit was Calvyn wat die mens se hart ʼn afgodsfabriek genoem het. Dag ná dag verskyn daar nuwe afgode op die voerband van dié fabriek. Massaproduksie. Dis die één bedryf wat nie deur die stygende inflasiekoers, stakings of rasionalisering geraak word nie. En die materiaal waarvan die afgode gemaak word? God se goeie skepping!

Ja, selfs die mooiste dinge kan die plek van God in ons hart inneem. Dit kan jou eggenoot of jou kinders wees; jou beroep, die politiek, jou studies, jou huis of jou vakansiehuis; jou geld, beleggings, talente en ideale. Dié word dan as God aanbid. Dáárin plaas jy jou vertroue. En as dié dinge die dag nie meer daar is nie, as jou man of vrou of kind sterf, as die bankrotskap jou eiendom en kapitaal opsluk en omstandighede jou ideale verpletter – dan stort jou hele bestaan soos ʼn kaartehuis ineen. Omdat jy nie die onderskeid tussen skepping en Skepper verstaan het nie.

Die bedoeling is dat ons dit wat God gee dankbaar uit sy hand sal ontvang, maar dat ons hart nie om dié gawes van God sal rank nie, maar wel om die God van die gawes. In die meeste van ons se lewe is daar sake wat té belangrik vir ons geword het, dinge wat ons harte en gedagtes buite mate vul, ons tyd en energie oormatig in beslag neem. Dalk is dit tyd dat jy die voerband van jou afgodsfabriek afskakel en die werkers huis toe stuur (1 Tess 1:9). Want die Here sê: “My seun, my dogter, gee My jou hart” (Spr 23:26, 1953-vertaling).

Die plek van God in ons lewe kan deur selfs die mooiste dinge ingeneem word.

Vader, wie kan met U vergelyk word? Wie is ʼn God soos U? Amen.

Johan Cilliers