Home » Februarie » Die enigste pad

Die enigste pad

“Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6).

ʼn Toeris het eenmaal ʼn wyse ou man raakgeloop en hom gevra om vir hom die pad te beduie na ʼn Middeleeuse kerkie wat hy graag wou besigtig. Die wyse het dit redelik omslagtig gedoen. Toe hy klaar was, vra die toeris ongeduldig: “Is dit die kortste pad?” Waarop die wyse antwoord: “Dit is die enigste pad.”

Ons glo Jesus Christus is die enigste weg na God toe. Dit is wat ons sê wanneer ons bely dat ons nie net in God glo nie, maar ook (en) in Jesus Christus, Hy wat God op ʼn besonderse manier aan ons kom openbaar het.

Hierdie belydenis klink dalk vir baie net té eksklusief. Kan Christene werklik daarop aanspraak maak dat Christus die enigste weg na die Vader is? Gaan al die mense wat ander godsdienste aanhang dan verlore? Dwaal hulle almal? Daar is dan soveel goeie mense van ander gelowe, mense wat ons as Christene dikwels beskaamd laat staan …

Gelukkig hoef ons nie oor ander mense te oordeel nie. Dit sal God doen. Ons moet egter nie slimmer as God probeer wees nie. Volgens sy Woord is daar net één manier om by Hom uit te kom, en dit is deur geloof in Jesus Christus. Jesus het self gesê: “Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6).

Die belangrikste vir ons om te weet, is dit: Hierdie Weg lê oop voor ons. Voor jóú! Kom. Nóú.

Die Weg na God lê oop voor jou. Kom! Nóú.

Here Jesus, op hoeveel dwaalweë was ek nie al nie! Dankie dat U my gesoek en gevind het ek toe ek nog verlore was. Amen.

Johan Cilliers