Home » Maart » Jesus het my lief

Jesus het my lief

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Joh 4:19).

ʼn Paar verslaggewers het eenkeer ʼn onderhoud gevoer met die groot teoloog – sommige meen selfs die grootste teoloog van hierdie eeu – Karl Barth. Een van hulle het hom die vraag gevra waarop almal die antwoord wou weet: “Professor, wat is die grootste waarheid wat nog ooit in u gedagtes opgekom het?”

Almal het verwag dat die een of ander groot teologiese of filosofiese uitspraak hierop sou volg, te diepsinnig vir gewone mense om te verstaan. Die joernaliste het met gefokusde konsentrasie reggestaan met hulle penne en bandopnemers.

Toe antwoord Barth: “Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so!”

Dit was die eenvoudige liedjie wat hy as kind by sy moeder geleer het. (Ons sing dit as “Jesus min my”.)

Inderdaad! ʼn Mens kan intellektueel baie van Jesus weet; jy kan sy lewensgeskiedenis, sover dit aan ons bekend is, op die punte van jou vingers ken. Jy kan die geleerdheid hê om die nuutste teorieë oor Jesus te beoordeel. Maar as jy Jesus waarlik wil verstaan, moet jy, soos Karl Barth, weet van sy liefde vir jou, moet jy in ʼn liefdesverhouding met Hom staan. Johannes, die apostel van die liefde, sê hieroor:

“Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.” En: “Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê” (1 Joh 4:9, 19).

Ons het niks daarvan verdien nie en ons sal God nooit genoeg daarvoor kan prys nie, maar so is dit: Jesus het my lief …

Glo dit net.

“Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so.”

Here Jesus, vergewe my as ek my eerste liefde verlaat het. Dankie dat U my eerste liefgehad het. Amen.

Johan Cilliers