Home » Maart » Slapende saadjie

Slapende saadjie

“Dit [die koninkryk] is soos mosterdsaadjie” (Mark 4:31).

Ná ʼn baie lang soektog het argeoloë uiteindelik in die Egiptiese piramides die graf van die legendariese koning Toetankamen ontdek. Soos hulle gehoop het, het dit fabelagtige skatte en kunswerke uit die antieke wêreld bevat. Maar daar was ook iets anders: koringkorrels! Dit was ʼn oorblyfsel van die voedsel wat die koning volgens die geloof van destyds moes versterk op sy reis na die ewigheid. Wetenskaplikes beweer dat hierdie eeue oue korrels – ná duisende jare van “rus” – steeds sou groei as ʼn mens dit sou plant.

So is dit met die koninkryk van Christus. Dit lyk dalk vir sommige soos ʼn slapende koringkorrel. Dit voel dalk soms vir ons asof daar in ons geloofslewe geen vooruitgang is nie. Asof alles tot stilstand gekom het. Dis egter bloot skyn. Christus self het eenmaal sy koninkryk met saad – met ʼn mosterdsaadjie – vergelyk en gesê: “Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante” (Mark 4:31-32).

Niks kan die werk van Christus in ons lewe stuit nie. As Gesalfde van God (dit is wat “Christus” beteken) vervul Hy die amp waarin God Hom aangestel het ter wille van ons, naamlik Koning, Profeet en Priester. Hy is met ons besig. Sy werk lyk dalk nou nog soos ʼn mosterdsaadjie, ja, soos ʼn slapende saadjie. Maar kort voor lank is dit oestyd. Hou moed.

Kort voor lank is dit oestyd. Hou moed.

Jesus, laat my groei – na U toe. Amen.

Johan Cilliers