Home » Maart » Priester

Priester

Ons het ʼn Hoëpriester (Heb 8:1).

Miskien een keer in ʼn leeftyd het mense die ervaring dat hulle langs die strand stap en ʼn bottel sien lê. En dan, wanneer hulle nader gaan om dit in ʼn vullisblik te gooi, sien hulle dat dit ʼn verseëlde bottel is – met ʼn briefie daarin! In die briefie staan gewoonlik dat wie ook al die bottel vind met die afsender in verbinding moet tree. Op die briefie is nie net ʼn adres nie, maar ook ʼn datum, sodat daar vasgestel kan word hoe lank dit gekos het voordat die bottelboodskap gevind is.

ʼn Interessante speletjie! Maar die uitkoms is onseker. Die afsender van die briefie weet nooit of iemand die boodskap gaan ontvang, waar in die wêreld dit gevind sal word, hoe lank dit gaan duur en veral nie of die persoon wat dit kry ooit gaan antwoord nie.

Om te bid is gelukkig nie so ʼn onseker saak nie! Ons het ʼn Priester, ʼn Hoëpriester, Jesus Christus, wat ons gebedsboodskappe direk na die regte adres neem. Ons weet dat iemand dit hoor: die Vader. Ons weet waar Hy dit gaan ontvang: in die hemel. Ons weet hoe lank dit gaan duur voordat Hy dit hoor: oombliklik. En ons weet, sonder enige twyfel, dat die Vader ons gebede hoor en sal verhoor.

Dis nie ʼn willekeurige speletjie, ʼn mog-het-troffe-handeling nie, maar een wat danksy ons Hoëpriester Christus vol sekerheid is. “Ons het ʼn Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel” (Heb 8:1). Ons hoef nie bottelbriefies in die see of na die hemel te gooi nie. Want ons het ʼn Hoëpriester, Jesus.

Ons weet sonder enige twyfel dat die Vader ons gebede sal verhoor.

Here Jesus, dankie dat U die kloof tussen my en my Vader oorbrug. Ook wanneer ek bid. Amen.

Johan Cilliers