Home » Maart » Die Here is meer as ʼn held

Die Here is meer as ʼn held

Hy het ons verlos … op grond van sy eie ontferming (Tit 3:5).

Jesus was die volmaakte voorbeeld van menswees. ʼn Held vir wie ons maar net bewondering kan hê. Hy verteenwoordig die toppunt van die mensdom. So dink baie Christene oor Jesus. Selfs mense wat nie Christene is nie, stem in dat Jesus darem ʼn buitengewone man was; dat Hy wonderlike ideale van liefde, geregtigheid en vergifnis verkondig het. Hulle bewonder Hom dat Hy selfs bereid was om daarvoor te sterf. Hulle gee toe dat Hy ʼn mens was na wie alle mense kan opsien.

Dit is alles waar. Maar dit is nie al wat ons oor Jesus kan sê nie. Jesus is sekerlik ʼn held en ʼn voorbeeld, maar ook baie meer. ʼn Mens kan ʼn goeie voorbeeld of ʼn groot held bewonder, maar so iemand kan jou nie verlos nie.

Oor die feit dat Jesus die Verlosser is, laat die Bybel ons in geen twyfel nie. Jesus is gebore met die doel om sy volk van hulle sondes te verlos (Matt 1:21). Hy het op aarde verskyn om ons vry te spreek (Tit 3:5). Jesus is meer as bloot die grootste en edelste wat ooit uit die mensdom gebore is. Hy is geen “superster” nie. Hy kom van God en is God.

Wanneer die Bybelskrywers en die Apostoliese Geloofsbelydenis praat van “die eniggebore Seun van God” is dit presies wat hulle daarmee bedoel. Wie dit nie insien nie, verstaan nie die hart van die evangelie nie. Martin Luther het gesê: “Wie aan die ware Godheid van Christus iets afdoen, verloor later die hele Christendom en moet later ʼn Turk (dit is, ʼn Mohammedaan, JC) word.” Maar nou: Ons is nie Mohammedane nie; ons is Christene. Nie bewonderaars nie, maar verlostes. Deur God se eniggebore Seun.

Jesus is geen “superster” nie. Hy kom van God en is God.

Jesus, Lig uit Lig, uit die Vader se ryk, word uit liefde aan mense gelyk. Kind, maar hemeIs. Loof die hemelse Kind! Amen.

Johan Cilliers