Home » Maart » Die vierde vinger

Die vierde vinger

Die Here is my herder (Ps 23:1).

Wanneer ons Sondae bely: “Ek glo in … Jesus Christus … ons Here,” vind ek altyd ongelooflike troos in die eenvoudige woordjie “ons”. Om te dink dat ons God se eniggebore Seun “ons Here” mag noem! Die “ons” verwys in die eerste plek na die gemeenskap van gelowiges, die kerk. ʼn Mens is mos nooit ʼn Christen in jou eie klein hoekie nie. Tog is die “ons” ook individue wat sê: Ek glo … Jesus is my Here.

Dit herinner aan die bekende verhaal van die dogtertjie wat bedags die skape op haar pa se plaas moes dophou terwyl hulle rustig in die kraal gewei het. Haar gesin was godsdienstig en een aand by huisgodsdiens het hulle Psalm 23 gelees. Toe leer haar pa haar sê: “Die Here is my herder …” Om haar dit te help onthou, het hy elk van die vyf woorde op die vyf vingertjies van haar een hand afgetel: Die-Here-is-my-herder.

Op ʼn dag het ʼn storm losgebars en die skape het verbouereerd deur die kraalheining gebars en die veld in gestorm. Die dogtertjie het hulle agternagesit en in die yskoue verdwaal. Haar pa het self die soekgeselskap gelei, maar toe hulle haar uiteindelik kry, was sy reeds dood, verkluim. Met haar een hand het sy die vierde vinger van haar ander hand vasgehou. Toe besef haar pa skielik waaraan sy in haar laaste oomblikke gedink het, waaraan sy vasgehou het. Die vierde woord in die belydenis: “Die Here is my herder.”

Wat ook al jou situasie – in sy hande is jy veilig (Ps 23:4).

Die geloofbelydenis word hardop gesê in die gemeenskap van gelowiges. Tog is dit ook individue wat sê: Ek glo …

Jesus, ook ek hou vandag my vierde vinger vas. Dankie dat u hand my omsluit. Amen.

Johan Cilliers