Home » Maart » Kompartementsgodsdiens

Kompartementsgodsdiens

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge (Rom 11:36).

Christus is Here oor die wêreld, ja, oor die ganse heelal. Die Hollandse teoloog Abraham Kuyper is bekend vir sy treffende uitspraak: “Elke duimbreedte van ons bestaan behoort aan die Here!”

Jesus se Heerskappy omvat die lewe in al sy fasette: die politiek, ekonomie, wetenskap, natuur, kuns, ons verhoudingslewe met ʼn lewensmaat, ʼn kind, ʼn vriend, ʼn werkgewer en werknemers, mense van ʼn ander ras, taal en kultuur.

Ons godsdiens is dus nie beperk tot Sondae in die kerk nie. Ongelukkig lyk baie “Christene” se leefstyl só: Sondag – vroom in die kerk; Maandag – oneerlik in die besigheid; Dinsdag – ontrou aan my huweliksmaat; Woensdag – misbruik van God se Naam; Donderdag – onmenslik teenoor ander mense; Vrydag – plesier bo alles; Saterdag – selfsug bo alles; Sondag – vroom in die kerk.

Só verdeel ons ons godsdiens in kompartemente. En daarmee maak ons ons diens aan God wêrelds. Iemand het gesê daar is so min van die kerk in die wêreld sigbaar omdat daar so baie van die wêreld in die kerk sigbaar is. As ons die Here nie van Maandag tot Saterdag as Koning in ons lewe eer nie, is dit bedrog om dit op Sondag te probeer doen. Buitendien, Hy is nie ʼn Sondaggod nie, maar God. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge (Rom 11:36).

Elke duimbreedte van ons bestaan behoort aan die Here.

Jesus, Here, hier is my lewe. Elke sentimeter, van kop tot tone; van kamer tot kerkbank tot kantoor. Amen.

Johan Cilliers