Home » April » ’n Geskenkie vir die kind

’n Geskenkie vir die kind

Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre (Matt 2:11).

Dit was nie net die sterrekykers wat ervaar het dat daar maar een manier is om op die Kersverhaal te antwoord nie. Ook Josef reageer met geloof en aanbidding. En Maria. Ná hulle en tot vandag toe is dit die reaksie van mense wat enigsins begryp wat die betekenis van die geboorte van die Christuskind is. Want ’n mens kan nie neutraal teenoor die Kind bly nie. Frank O’Connor, die bekende Amerikaanse kortverhaalskrywer, vertel van ’n soortgelyke ervaring uit sy jeug: 

“Een Kersfees,” skryf hy, “het ek ’n elektriese treintjie present gekry. Toe ek en my ma op Kersoggend by die plaaslike klooster gaan besoek aflê, het ek dit natuurlik saamgeneem. ’n Jong non het vir my die Kerstoneel wat hulle opgestel het, gaan wys … met die krip en alles.

“Ek onthou hoe ontsteld ek was toe ek in die krip kyk en sien dat die Christuskind geen geskenk gekry het nie. Ek kon dit nie verstaan nie. Ek het vir die non gevra of die Kindjie dan nie van speelgoed hou nie.

“Haar antwoord was: ‘Ja, Hy hou van speelgoed, maar sy ma was te arm om vir Hom iets te koop.’ Toe sy wegstap, het ek klaar besluit … My ma was ook arm, maar ek het darem nog ’n pakkie kryte ook gekry. Ek onthou dat ek in die krip geklim en my mooi treintjie in die baba se uitgestrekte arms neergesit het. Waarskynlik het ek nog vir Hom gewys hoe dit werk ook, hoe ’n mens dit opwen, want sulke klein babatjies weet nog nie hoe treintjies werk nie …

“Maar wat ek die heel beste onthou,” sê Frank O’Connor, “wat ek my hele lewe lank sal onthou, is die gevoel van roekelose vrygewigheid wat ek ervaar het toe ek langs die krip gestaan en na die baba gekyk het. Ek het geweet … vir Hom sal ek enigiets gee, sal ek alles gee …”

Sal jy?

Vir Hom sal ek enigiets gee, sal ek alles gee.

Jesus, neem my, my “treintjies”, my hele lewe. Amen.

Johan Cilliers