Home » April » Gewone geboorte

Gewone geboorte

Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word (Luk 2:6).

In teenstelling met die blink versierings en trompette waarmee Kersfees in ons tyd gekommersialiseer word, is die Bybelse verhaal van wat daardie nag gebeur het sober en eenvoudig. “Sy [Maria] het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie” (Luk 2:7).

Dit klink so gewoon, so realisties. Maar so was dit inderdaad. Daar was geen stralekrans om die koppie van die Kindjie nie, geen ligglans in die stal nie. Dit was ’n doodgewone babatjie wat daar gelê het, met krom beentjies en pienk naeltjies aan sy vingers en tone (Van Ruler).

Martin Luther skryf aangrypend oor die aardsheid van Jesus se geboorte en die menslikheid van sy bestaan: “Hy was nie ’n spook nie, maar het onder mense gewoon. Hy het oë, ore, ’n mond, ’n neus, ’n bors, ’n lyf, hande en voete gehad, net soos ek en jy. Hy het as baba melk gedrink, as grootmens geëet en gedrink; Hy het toornig geword en gebid, getreur en geween.”

Miskien is daar te veel stralekranse en ligstrale op ons Kerskaartjies. As ons die nag in die herberg was waar Jesus in die stal gebore is, sou ons die volgende oggend niks kon merk van die grootse gebeurtenis die vorige nag nie. Want Hy is gebore net soos ’n mens, soos ’n gewone kind.

Juis daarom verstaan Hy mense, verstaan Hy ook vir my. Hy weet alles van menswees. Hy was self ’n mens.

Miskien is daar te veel stralekranse en ligstrale op ons Kerskaartjies.

Here Jesus, ek kla so dikwels oor die sleur van die gewone dinge van die lewe, so asof dit niks nuuts of wonderliks meer inhou nie. Maak my oë oop vir u teenwoordigheid in die alledaagse werklikheid. Amen.

Johan Cilliers