Home » April » ’n Oog vir die kleine

’n Oog vir die kleine

Wat is die mens dan dat U aan hom dink? (Ps 8:5).

’n Sterrekundige het ’n lesing oor die grootheid van die heelal gelewer en die een asemrowende getal na die ander opgenoem: die afstand tussen die aarde en die maan, en tussen die aarde en die ander planete; die omvang van die sterrestelsels; die afstande van miljoene der miljoene ligjare; ’n steeds uitdyende heelal, waarvan ons planeet maar ’n spikkeltjie uitmaak.

Ná die referaat vra ’n aan die spreker: “As die aarde dan so klein en die heelal so oneindig groot is, glo u tog seker nie dat God regtig enige aandag aan ons, nietige mensies, skenk nie?”

“Dit,” het hy geantwoord, “hang nie af van die grootte van die heelal nie, maar van die grootsheid van God.”

Dié sterrekundige was ’n gelowige mens. Hy het geweet dat God, juis omdat Hy so groot is, ’n oog vir die kleine het. Ja, ons is maar klein. Skaars sigbaar in die onmeetlike ruimtes van die heelal. Geheel en al verdwerg, oorweldig, uitgekanselleer deur miljarde sterre, massas materie en sonnestelsels.

En tog het God na hierdie planeet gekom! Hy was gewillig om een van die mensespikkels op ons aardbol te word. Saam met die psalmdigter wil ’n mens uitroep: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” (Ps 8:4-5).

Niks! Die mens is niks. Maar ons God is so groot. Hy, wat sy arms om ons uitdyende heelal geslaan het, het self in ’n moeder se arms kom lê …

God, wat sy arms om ons uitdyende heelal geslaan het, het self in ’n moeder se arms kom lê.

Here Jesus, ek is ’n mensespikkeltjie vol groot sonde. Dankie dat U ook ’n klein mensespikkel geword het, maar vol groot genade is. Amen.

Johan Cilliers