Home » Mei » Gloeilamp van God

Gloeilamp van God

Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn (Jes 9:1).

Ons sê soms: “Hier is dit darem pikdonker!” Maar min van ons was al op ’n plek waar daar werklik geen lig is nie. Soos in ’n mynskag, duisende meter onder die aarde. Daar kom geen sweempie maanlig nie, geen sterre flonker daar nie, geen straatligte weerkaats nie, geen silhoeët is sigbaar nie. Net duisternis. Inkswart. Onder in ’n mynskag kan jy letterlik nie jou hand voor jou oë sien nie. Die donkerte sluk jou in …

Daar is dus goeie rede waarom duisternis in die Bybel ’n simbool vir die sonde is. Johannes sê byvoorbeeld: “As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie” (1 Joh 1:6). Die sonde maak ons blinde mense wat in die stikdonkerte soek na iets wat nie daar is nie.

Uitsigloos en hopeloos.

Dit is na hierdie donker wêreld dat God sy eniggebore Seun gestuur het. ’n Beeld uit die mynbedryf illustreer dit mooi. Wanneer slagoffers van ’n mynstorting diep onder die aarde in stikdonkerte vasgekeer is, laat reddingswerkers gewoonlik ’n gloeilampie aan ’n lang koord in die mynskag afsak. Nie net verskaf dit lig nie, maar dit help ook om die vasgekeerdes te bemoedig en hulle vrees in ’n mate te verdryf.

Só het die Seun van God in die donker mynskag van hierdie sondige wêreld ingedaal. Jesaja het eeue gelede al oor hierdie gebeurtenis geprofeteer: “Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien” (Jes 9:1). Daar is nie ’n plek op aarde wat te donker is vir hierdie lig nie. Nie eens die diep skag van my hart nie.

Nie eens die diep skag van my hart is te donker vir die lig van God nie.

Jesus, dankie dat u dag sterker is as my nag. Amen.

Johan Cilliers