Home » Mei » Hoed in die hand

Hoed in die hand

“Hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons (Matt 1:23).

’n Mens kan maklik dink dat God in hierdie wêreld afwesig is. Dikwels lyk dinge so ellendig rondom jou dat jy werklik nie eens ’n sweempie van God kan raaksien nie. Waar is God as jy siek is of bankrot speel? As jou lewensmaat by die deur uitloop of jy by die werk gerasionaliseer word? Waar is Hy wanneer jy op jou sterfbed lê of ’n geliefde stadig moet sien sterf?

Is God dalk te groot, te ver, te besig om Hom nog enigsins in te laat by hierdie wêreld en veral by my en jou probleme?

Nee, God het ons nie alleen gelaat nie! Hy is hier. En al sien ons Hom nie nou nie, het die Seun Hom onder ons sigbaar kom maak. Jesus het gesê: “Wie My sien, sien die Vader” (Joh 14:9). Dit is ons troos.

Dit laat my dink aan die man van die platteland wat sy siek seuntjie na die hospitaal in die stad moes neem. Vir al twee van hulle was dit ’n onbekende en ontstellende ervaring. Nadat die pa sy kind in die sorg van die verpleegpersoneel oorgegee het, moes hy gaan. Maar sy hart wou breek toe hy sien hoe verwilderd sy kind daar tussen die wit lakens en die onrustige aksies van die hospitaal lyk. Toe haal hy sy hoed af en gee dit vir die seuntjie om vas te hou totdat hy weer vir besoektyd terugkom. Getroos deur die bekendheid daarvan het die seuntjie, hoed in die hand, aan die slaap geraak …

In die onsekerheid van hierdie wêreld het God presies dit gedoen: Hy het vir ons iets, nee, Iemand, gegee om aan vas te hou. Meer nog: Hy het Homself gegee. En Hy hou ons vas. Daarom heet Hy: Immanuel, God by ons (Matt 1:23).

Waar is God wanneer jy siek is of bankrot speel? Of op jou sterfbed lê? Immanuel. God by jou.

Here Jesus, dankie dat ek, wanneer ek verleë voor U staan, hoed in die hand, kan ervaar dat U my aan u bors druk. Amen.

Johan Cilliers