Home » Mei » God in doeke

God in doeke

… sodat ons blydskap volkome kan wees (1 Joh 1:4).

Een Kersseisoen het ’n vrou drie kinders voor ’n vrolike winkelvenster sien staan. Twee was opgewonde aan die babbel. Die middelste enetjie het doodstil gestaan, neusie platgedruk teen die glasruit.

Toe sien die vrou die middelste kind is blind. Die ander twee was besig om vir haar te vertel van die wonderlike dinge in die venster: die boompies en die liggies, die poppe en die treintjies. Die blinde kind kon die wondervenster net deur die oë van haar maats beleef.

Wat sê dit vir ons? Dit herinner ons daaraan dat die mens van nature blind is vir die wonder van die geboorte van die Seun van God. As jy met menslike oë na die Seun kyk, sien jy bloot ’n mens, is jy blind vir sy Godheid. Want Jesus was waarlik mens – dit moet ons geen oomblik vergeet of probeer afwater nie. Maar, as jy met geloofsoë na Jesus kyk, sien jy meer, sien jy … God.

Ons wat só sien, wat Hom kan raaksien, moet dit aan ander vertel. Ons moet soos die kinders opgewonde aan die babbel raak oor die “wonder van God in die stad Betlehem”, soos die bekende Kersliedjie lui. Ons moet ander ook opgewonde en bly maak oor hierdie wonder. Die apostel Johannes het dit gedoen, en nie net sodat ander bly kan wees nie! Hy skryf: “Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê … sodat ons blydskap volkome kan wees” (1 Joh 1:3-4).

Ons het immers veel meer as boompies en liggies, poppe en treintjies gesien wat ons bly kan maak. Ons het God in doeke gesien.

Ons moet soos kinders opgewonde aan die babbel raak oor die “wonder van God in die stad Betlehem”.

Here Jesus, maak my weer ’n blinkoog-kind wat kan sien. Amen.

Johan Cilliers