Home » Mei » Biddende hande

Biddende hande

“Niks is vir God onmoontlik nie” (Luk 1:37).

Iemand het eendag gesê dat hy Sondae, wanneer hy met die geloofsbelydenis moet nasê dat Jesus uit ’n maagd gebore is, sy vingers agter sy rug kruis in die hoop dat dit wel waar is. Want is dit dan hoegenaamd biologies moontlik dat ’n maagd geboorte kan skenk aan ’n kind? Dit druis tog in teen die wette van die natuur, wat immers ook deur God daargestel is? Ander beweer egter dat so ’n geboorte wel biologies en wetenskaplik heel moontlik en haalbaar is – dus kan ons dit maar glo!

Hierdie soort argumente is interessant, maar nie deurslaggewend vir ons geloofsbelydenis nie. Die punt is dat ons glo: Niks is vir God onmoontlik nie (Luk 1:37). Buitendien: Is daar in die Christelike geloof nie groter sake waarteen ’n mens jou ongelowige kop sou kon stamp nie? Dink aan die wonder van die skepping uit niks; die geheimenis van die eenheid van God en mens in die Persoon van Jesus; Jesus se opwekking uit die dood; die belofte van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. As God dit alles kan doen, is die maagdelike geboorte tog nie vir Hom ’n “probleem” nie?

Maar belangriker nog: Met hierdie belydenis raak ons aan die hart van die evangelie, naamlik dat Jesus, alhoewel waarlik mens, ook waarlik God is. Hy word gebore as mens, maar is God en kom van God. Dit is wat die maagdelikheid van Maria onderstreep. Hou dus maar op om jou vingers agter jou rug te kruis en vou dit eerder voor jou in gebed … en dank God.

Die hart van die evangelie is dit: Jesus is God en mens.

Jesus, gebore soos geen ander – U is waarlik God. Amen.

Johan Cilliers