Om ʼn skaduwee vir ander te wees

Ek het vir jou gesê wat jy moet sê, en jou beskerm in die skaduwee van my hand, want Ek het die hemel oopgespan en die aarde se fondamente gelê en vir Sion gesê: “Jy is my volk” (Jesaja 51:16).

Onlangs vertel ʼn familielid hoe sy in ʼn stadium moeite gedoen het om te luister en om te sien na iemand wat haar sorg en aandag dringend nodig gehad het.
Dit terwyl ander, selfs goeie vriende en kollegas, onbewus was van hierdie persoon se nood. En daarom onnadenkend daaraan verbygeleef het.
Agterna het hierdie persoon haar waardering op ʼn besonderse manier aan my familielid te kenne gegee. Haar woorde was: “Dankie dat jy vir my ʼn skaduwee in my tyd van onsekerheid en nood was.” Lees Verder>>

In die lig van ʼn nuwe dag

“Weet jy waar die daeraad vandaan kom, die daeraad wat lig oor die hele aarde bring?” (Job 38:12-13).

ʼn Mooi voorbeeld van hoe iemand daarin geslaag het om hartseer en selfs woede meer draaglik te maak, is dié van die karakter Stingo uit die rolprent Sophie’s Choice.

Sophie’s Choice gaan oor ʼn Poolse vrou wat met haar aankoms in ʼn Duitse strafkamp gedwing is om te kies om een van haar twee kinders aan die dood prys te gee. Ná hierdie traumatiese ervaring kon sy die beeld van haar huilende dogtertjie nooit vergeet nie. Haar lewe lank het dit by haar gespook en haar in volhardende skuldgevoelens en hartseer gedompel.

As ʼn jong aspirerende skrywer kom woon Stingo ʼn tyd lank by Sophie en haar minnaar, Nathan, in ʼn huis in Brooklyn. Hy raak verlief op Sophie en ontdek haar geheim. Sy poging om haar uit hierdie donker put van verdriet en skuld te red, eindig egter in ontnugtering en verslaenheid wanneer sy en Nathan saam hulle eie lewe neem.

Vir Stingo was dit die einde van ʼn kort en baie donker pad, maar ook die begin van ʼn nuwe lewe – een waarin hy besef het dat die nag uiteindelik tog weer deur die dag afgelos word. En dat ʼn mens in die lig van so ʼn nuwe dag moet leef.

Pragtig verwoord hy aan die einde van hierdie rolprent sy bevrydende ontdekking:

“And so ends my journey of discovery in a place as strange as Brooklyn. I let go of my rage and sorrow for Sophie and Nathan and for the many others who were but a few of the butchered, betrayed and martyred children of the world. When I could finally see again I saw the first rays of daylight reflected in the murky river. This was not judgment day – only morning. Morning: excellent and fair!”

Here, dankie vir die son wat vandag nuwe lig bring en ons aan die gawe van lewe herinner. Ook aan die uitdaging om te leef. Amen.

Carel Anthonissen

 

Só word hartseer draagliker

Toe Jesus dit hoor, het Hy met ʼn skuit daarvandaan weggegaan na ʼn stil plek om alleen te wees … Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak (Matteus 14:13-14).

Hoe wreed en sinloos die verhaal van Johannes die Doper se moord ook al is, eindig dit nie met die bloed en afgryse nie.

Trouens, Jesus se reaksie op hierdie moord impliseer ʼn soort pad, ja, ʼn optrede waardeur hierdie tragedie, en ander soortgelyke gebeure, draagliker gemaak kan word.

Nadat Jesus hierdie tragiese nuus ontvang het, so lees ons, het Hy Hom in stilte afgesonder van sy dissipels en die skare. In dié stilte, kan ons aflei, het Hy eers alleen oor die dood van sy troue vriend getreur en nagedink.

Waarna Hy met nuwe en selfs ongekende drif en deernis teruggekeer het na die skare om hulle in hulle nood by te staan en uiteindelik ook te voed.

Hier is geen sprake van bitterheid of wraak nie. Geen preek om iemand te veroordeel of te beskaam nie. Alleen maar ʼn diep, stil en eerlike deurlewing van ʼn onherstelbare verlies. En dan ʼn terugkeer na die skare om hulle te voed. Omdat Jesus, te midde van sy diep ontsteltenis en smart, sy deernis vir mense nie kon prysgee nie.

Ook omdat Hy geweet het die volgehoue betoning van deernis is die enigste manier om hartseer, smart en bitterheid draagliker te maak.

Mag die Here ons help om dit ook te ontdek.

Here, gee ons vandag meer van u liefde, sorg en deernis sodat die afgryse van ons wêreld vir ons draagliker kan word. Amen.

Carel Anthonissen

 

Aanvaar die afgryse

Hulle het sy kop in ʼn skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het (Matteus 14:11).

Ons lewe word baie dae omring met stories wat eenvoudig ondraaglik is, indien nie totaal sinloos nie.

Een so ʼn verhaal is die tragiese dood van Johannes die Doper (Matteus 14:1-12).

Gaan lees dit gerus weer: hoe Johannes onregmatig in die tronk gestop word weens sy kritiek op koning Herodes se immorele huwelik. Hierna volg ʼn ma se slinkse plan, wat eindig met Johannes se kop wat in ʼn skottel by die feessaal ingedra word.

Meer afgryslik en sinloos kan dit byna nie.

Tereg skryf die teoloog Debie Thomas hieroor:

“What bothers me about John the Baptist’s death – its gruesomeness notwithstanding – is its utter senselessness. John dies at the whim of a clueless teenager. He dies because a powerful woman has a callous heart and a lustful man has the shallow sense of honour. He dies for moral cowardice … Worse, John dies disillusioned and afraid, unsure of his Messiah. Worse still, he suffers a death that accomplices nothing.”

Hierdie verhaal – en daar is meer van hulle waaraan ons elke dag blootgestel word – bly ʼn toets vir ons geloof in God se almag en voorsienigheid. Miskien is dit selfs ʼn herinnering dat ons moet waak om sulke verhale te gou af te water of selfs te versuiker met ʼn goedkoop betekenis, troos of belofte.

Miskien is dít juis die punt, soos Debie Thomas sê: “… that we don’t need to slap purpose or meaning on all human experience in order to prove our piety. Maybe some things are just horrible.”

Wie dit aanvaar, ook geduldig en bewoë daarby vertoef, sal dalk verras word met ʼn onverwagte uitweg of uitkoms. Gelukkig praat Matteus 14 ook daaroor.

Here, daar is verhale wat so erg is dat ons dit nie wil hoor nie. Gee ons die moed om dit as deel van ons lewe te aanvaar. En gee U self ʼn uitweg. Amen.

Carel Anthonissen

 

Christus ken ons verlange

Maar geliefdes, al praat ons in hierdie trant, is ons oor julle oortuig van beter:
dat julle gered sal word. God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie (Hebreërs 6:9-10).

“Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet” (Johannes 21:17).

Terwyl ons leef met die belofte dat dié wat op Christus en die voorbeeld van sy volgelinge fokus nuwe energie en hoop sal kry, is daar terselfdertyd ʼn ontstellende gevaar. Een wat talle ernstige en toegewyde gelowiges al slapelose nagte besorg het.

Dit is dat ʼn mens – selfs nadat jy die goeie Woord van God leer ken het, deur God verlig is en deel aan die werk van sy Gees gekry het – steeds afvallig kan word. Steeds die weg waarop God jou gelei het op ʼn dag kan verlaat.

Die Hebreërskrywer klink redelik kras in sy beoordeling hiervan. Hy sien dit as ʼn hernude verloëning van Christus. Met beeldspraak vergelyk hy dit met vrugbare grond wat verdroog en nou waardeloos geword het. Sodat daar van ʼn terugkeer en herstel weinig sprake is. Lees Verder>>

Waarop jy fokus, sal vir jou energie gee

Terwyl ons dan so ʼn groot skare van geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Hebreërs 12:1-2).

Ek het ʼn vriend wat baie jare lank die slagoffer van die sogenaamde drankduiwel was.

Danksy hulp van buite en die herontdekking van die geestelike dimensie van sy lewe, het hy die afgelope jare ʼn pad uit hierdie donker labirint van verslawing gevind. Lees Verder>>

Die geloofspad as opgang

“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind” (Matteus 10:39).

Daar is verskillende maniere om die pad van geloof te beskryf.

My geestelike begeleier het dié pad dikwels vergelyk met ʼn spiraal wat geleidelik na onder kring. Só wou sy my daaraan herinner dat ons lewe voor God ʼn herhalende patroon het, maar een wat bedoel is om algaande, danksy God se genade, dieper en inniger te word.

Presies soos die na onder gerigte en dus dieper kringende spiraal. Lees Verder>>

Gelukkig is my naam nie Koos nie

Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredinge uit … Skep ʼn rein hart vir my, o God … Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u Heilige Gees nie van my wegneem nie (Psalm 51:3, 12-13).

Hoe die mens se dubbelslagtigheid, of verdeelde hart, kan oorhel na die verkeerde kant en in selfbedrog kan eindig, word mooi deur ʼn luimige anekdote geïllustreer.

In hierdie anekdote gaan dit oor ʼn alkoholis wat elke naweek vir homself sê: “Koos, hierdie naweek gaan jy minder drink.” Maar dan, terwyl hy reeds ʼn volgende glasie omhoog hou en skelm maar selfvoldaan grinnik, hoor ons hom onderlangs fluister: “Gelukkig is my naam nie Koos nie!” Lees Verder>>

Wanneer die leuen ons waarheid word

Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk, maar daarbinne vol doodsbeendere en allerhande onsuiwerheid is (Matteus 23:27).

Ek staan telkens verbaas wanneer mense, sommige selfs hoogs geleerde mense, mekaar in ʼn hofgeding duidelik weerspreek. Iewers, so voel dit vir my, word die waarheid doelbewus verhul en lieg iemand openlik.

Of kan dit wees dat mense hulle eie leuens glo en selfs verbete daaraan vasklou as ʼn eie en egte waarheid, en dit sonder enige gewete of ʼn sweempie van skuldgevoelens? Lees Verder>>

As ek my mond oopmaak

Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra (Filippense 2:15-16).

Behalwe vir ʼn ongesonde grootheidswaan, is daar ʼn verdere rede waarom sekere mense die lewe en ander mense meer aggressief benader. Dit selfs geniet om voortdurend met hulle te stry en te baklei.

Dit hang dikwels direk saam met die konteks of omgewing waarin mense grootgeword het, met die invloed en voorbeeld van hulle ouers en vriende. Daar is ʼn spreekwoord wat die bepalende belang van hierdie invloed mooi verwoord. Dit lui: “When I open my mouth, my mother comes out.” Lees Verder>>

1 2 3 12