Dienaars van die waarheid

Leef as kinders van die lig! Die vrug van die lig bestaan immers uit alle goedheid en geregtigheid en waarheid (Efesiërs 5:8-9).

‘n Derde vrug van ‘n lewe as kinders van die lig, is om dienaars van die waarheid te wees.

Op ‘n eerste vlak beteken dit gewoon, soos Paulus dit in Efesiers  4:25 stel, dat ons leuens sal vermy en leer om met ons naaste die waarheid te praat. Lees Verder>>

Die sisteme waarbinne ons leef

Beproef wat vir die Here aanneemlik is. Ja, moenie deel hê aan die onvrugbare werke van die duisternis nie; stel dit eerder aan die kaak (Efesiërs 5:10-11).

Om God se geregtigheid te soek en só as kinders van die lig te lewe, beteken, veral in óns konteks, natuurlik veel meer as net om aalmoese aan die armes uit te deel.

Hoewel hierdie vorm van gunsbetoning nie nagelaat mag word nie, moet dit aan die ander kant ook altyd met onderskeidingvermoë gedoen word. So nie kan ‘n mens, ondanks goeie bedoelings, die behoeftiges ongesond afhanklik hou en selfs in ‘n bepaalde vorm van kwaad sterk. Lees Verder>>

Om ʼn goeie mens te wees

Wees goed vir mekaar, welwillend, terwyl julle mekaar vergewe soos God in Christus julle ook vergewe het (Efesiërs 4:32).

In Efesiërs 4 – 5 herinner Paulus ons aan een van die belangrikste waarhede wat ons in die loop van ons lewe kan hoor – dit is dat die vriendelike lig van Christus se liefde wat alle donkerte en wanhoop verdryf, reeds oor ons skyn.

En dat ons elke dag uitgenooi word om ons lewe daaronder te stel. Alleen só word ons lewe die moeite werd, word dit ʼn lewe wat vrugbaar en vol betekenis is.

Die eerste vrug van ʼn lewe wat in die lig van Christus se liefde floreer, volgens Paulus, is goedheid (Efesiërs 5:9). Dit is ʼn lewe wat, hoe ongelooflik dit ook al klink, iets van Christus se eie goedheid en guns begin afspieël. Lees Verder>>

Ons is kinders van die lig

Want vroeër was julle wel duisternis, maar nou is die Here julle lig. Leef as kinders van die lig (Efesiërs 5:9).

Een van die ou mites waarmee die geheime en die gang van ons geskiedenis oor eeue heen beskryf en verklaar is, is dat dit ʼn konstante stryd tussen goed en kwaad, tussen lig en donkerte behels.

ʼn Verdere aspek van dié siening is dat die mens in die loop van die lewe aan een van dié twee kante leef of stry. Deur wat mense doen of sê, bevorder hulle óf die saak van die lig óf die saak van die donkerte.

Hierdie stryd of spanning wat ons geskiedenis kenmerk, aldus die bekende mite, is natuurlik heelwat ingewikkelder. Lees Verder>>

Troos wat kan opbeur

Wanneer ontstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur u vertroosting my op (Psalm 94:19).

In Psalm 94, waar die psalmdigter moedeloos kla oor die onreg en geweld van goddelose mense, kom daar uiteindelik tog ʼn betekenisvolle deurbraak, ʼn bevrydende en troosvolle wete of oortuiging.

Aangrypend mooi verwoord die psalmdigter dit in vers 19: “Wanneer ontstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur u vertroosting my op.”

Van waar dié bevrydende wending, hierdie onverwagse en opbeurende troos? Lees Verder>>

Hoe lank nog, Here?

Hoe lank sal goddelose mense, o Here, hoe lank sal goddelose mense jubel? (Psalm 94:3).

Die digter van Psalm 94 worstel met ʼn probleem wat ons vandag goed ken.

Dit is die pynlike ervaring dat, terwyl gelowiges reg probeer leef, daar ʼn hele gemeenskap van goddeloses is wat ander veronreg en selfs om die lewe bring (94:4-6). En dit sonder dat iemand ʼn vinger verroer om hulle te keer.

Trouens, so verwaand en selfversekerd het die goddeloses van Psalm 94 in die pleeg van hulle wandade geword dat hulle – so kla die psalmdigter – onbeskaamd daaroor begin spog het, asof dit ʼn grootse prestasie is (94:3-4).

En dit terwyl hulle in dieselfde asem met groot vertoon aangekondig het dat daar tog nie ʼn God is wat hulle kan sien en die kwaad kan vergeld nie (94:7). Lees Verder>>

Geroep in ʼn tyd van krisis

Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” (1 Konings 19:9).

Wanneer Elia in 1 Konings 19 op moedverloor se vlakte beland, versterk en bemoedig God hom op meer as een manier.

Allereers word hy gevoed deur die hand van ʼn engel. En dan, toe Elia hom ná ʼn lang reis van veertig dae uiteindelik in ʼn grot op die berg Horab bevind, kom God self na hom toe met ʼn belangrike vraag.

Dié vraag lui: “Wat maak jy hier, Elia?” Ja, waarheen presies is jy op pad, terwyl jou volk wag op nuwe lig en leiding, op ʼn woord van hoop en bevryding?
Lees Verder>>

Word wakker en eet!

Toe hy hom weer kom kry, skud ʼn engel hom wakker en sê: “Word wakker! Eet!” (1 Konings 19:5).

Toe Elia in 1 Konings 19 op moedverloor se vlakte beland, voel dit – ten minste vir hom – asof die einde van sy lewe aangebreek het.

Asof sy gees finaal geblus en sy toekoms afgesluit is.

Waarmee hy nie rekening gehou het nie, was dat die God van sy voorgeslagte steeds naby, ja, rondom hom was. En dat hierdie God hom steeds nodig gehad het vir sy planne met sy volk.

Daarom hierdie nuwe wending in die verhaal, wanneer God opnuut na Elia uitreik. En wanneer God opdaag, is dit nie allereers met die een of ander sedeles of gewigtige opdrag nie. Nee, God begin by dit wat basies is – by dit wat Elia in daardie stadium die nodigste gehad het.
Lees Verder>>

Selfbehepte smart

Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring” (1 Konings 19:10).

Een van die groot redes waarom ons moeg word op die pad van die lewe en dan op moedverloor se vlakte beland, is dat die lewe so onvoorspelbaar is.

Dinge gebeur waarop ons glad nie voorbereid is nie en wat ons lewe oornag ontwrig en van balans gooi. Sodat angs en vertwyfeling ons dae en nagte begin oorheers.

Dít bring mee dat God se beloftes in ons lewe vervaag. Ja, dat die goeie herinneringe aan God se sorg in die verlede verdring en deur allerlei spookbeelde vervang word. Ons horison, wat vroeër so rooskleurig en vol hoop was, is skielik donker en uitsigloos. Lees Verder>>

Op moedverloor se vlakte

Elia het bang geword en vir sy lewe gevlug … Daar [in die woestyn] het hy onder ʼn besembos gaan sit en gewens hy gaan dood (1 Konings 19:3-4).

Een van die belangrikste gebede wat ons as gelowiges kan bid, is vir blywende vertroue en bestendigheid op ons lewenspad.

Om dit anders stel: dat ons, soos ʼn goeie atleet, die nodige krag en uithouvermoë sal hê om die spreekwoordelike wedloop wat voor ons lê met volharding en moed vol te hou (Hebreërs 12:1-2).

Want ongelukkig gebeur dit dat ons soms langs die pad moeg en moedeloos word, in so ʼn mate dat ons dit oorweeg om tou op te gooi. Presies soos Elia wat, volgens 1 Konings 19, in ʼn stadium onder ʼn besembos gaan sit en gewens het hy gaan dood.
Lees Verder>>

1 2 3 4 107