Home » April » Dit moet tog méér wees, of hoe?

Dit moet tog méér wees, of hoe?

Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaar gekom,
van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou,
hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys (Handelinge 2:46).

Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het,
sodat ons nie dalk wegdrywe nie (Hebreërs 2:1).

Susan Groves, ‘n Anglikaanse priester en sielkundige wat wyd lees en graag leer van ander tradisies, stuur dié week haar gedagtes oor lydenstyd aan ‘n paar vriende.

Die stuk laat ‘n mens diep nadink oor die erns waarmee ons as Christene die lydenstyd sien en vier.

Haar gedagtes loop só:

“Dit kom voor of die Moslems Ramadan – hulle voorgeskrewe tydperk van vas en gebed – ernstiger neem as wat Christene met die lydenstyd van Christus doen.

“Lydenstyd is in vele opsigte ‘n grap. Jy gee ‘n bietjie koffie of sjokolade prys en daarmee is dít afgehandel.

“Ramadan is ernstig. Dit is ‘n tyd vir geestelike refleksie en vernuwing, ‘n uiterlike vorm waardeur jy gevra word om vanaf die oomblik wat die son opkom totdat dit in die Weste wegsink, jou van alle voedsel te onthou.

“Ek gaan probeer om my herinnering van lydenstyd met dieselfde erns as die Moslems se Ramadan aan te pak.”

Susan se stuk het my beskaam en tot nuwe selfondersoek gedwing.

Want behalwe dat die herinnering aan Jesus se lydenstyd baie Christene totaal onaangeraak laat, is dit selfs nóg erger wanneer dit kom by die viering van Paasfees – daardie herinnering aan Jesus se opstanding en die belofte van nuwe lewe en hoop wat daarin opgesluit is.

Vir baie is Paasnaweek niks meer as ‘n wegkomkans of ‘n kort vakansie nie.

Dit moet tog méér wees as dit, of hoe?

Here, vergewe ons dat ons u dood en opstanding so swak herdenk. Maak ons hierin meer toegewyd. Gee ons ‘n nuwe verwondering en geesdrif oor die nuwe lewe wat Christus gebring het. Amen