Home » April » Ruimtes maak saak

Ruimtes maak saak

Dit gaan goed met mense vir wie u huis ‘n tuiste is:
hulle hou nie op om U te prys nie (Psalm 84:5).

Ek onthou nog goed toe ek die eerste maal die belang van ‘n gesellige en warm ruimte vir die belewing van egte ontmoeting en geloofsgemeenskap ontdek het.

Dit was ironies genoeg in Denemarke tydens die negentigerjare.

‘n Vriend in Arhus, tweede grootste stad in Denemarke, het my die kerk gaan wys waar hy destyds as studenteleraar gewerk het.

Wat ‘n warm en gesellige ruimte was dit nie! Mooi matte, sagte beligting, klankdigte panele, kussings op banke wat almal in ‘n sirkel rondom die kansel geplaas was – en les bes: kleurryke lappe en simbole wat die mure en vensters versier het.

Ek het skielik verstaan dat Israel oor die tempel kon uitroep: “Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige” (Ps 84:2) Dit was eenvoudig lekker om daar te kom.

Natuurlik, so het ek onmiddellik gedink, kan ‘n ryk land soos Denemarke so iets makliker bekostig. Tot ek besef het dat die ruimte geensins luuks was nie – eintlik heel eenvoudig, maar met baie verbeelding en ‘n gevoel vir egte estetika en gemeenskap ingerig.

Dit was soveel anders as van die kerke en veral kerklike kampterreine waaraan ek gewoond was – ruimtes wat dikwels lelik, lawaaierig, koud, leeg en verbeeldingloos was.

Weer eens het ek besef hoe kerk-wees nie net gaan oor die mense wat saam kom om te aanbid nie – dit gaan ook oor die ruimte waarbinne dit geskied. Oor hoe daardie ruimte ingerig is, sodat dit die aanbidding kan help verdiep, die liturgie kan verryk, die eerbied vir God kan verhoog en die gemeenskap tussen gelowiges warmer en intiemer kan maak.

Onlangs het Kara Huber, vrou van die eertydse biskop van Berlyn, ‘n indrukwekkende boek oor die kerke in Berlyn op Stellenbosch bekend gestel.

Sy het besef dat as jy oor die kerk praat of skryf, ruimtes saak maak.

Here, dankie vir ruimtes wat u Naam eer en waarin ons U met oorgawe kan aanbid. Amen