Home » Augustus » In die skrik en troos van ons drome

In die skrik en troos van ons drome

Hy het gedroom: ‘n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer. Toe kom staan die Here by Jakob … (Genesis 28:12-13).

Jakob se droom in Genesis 28 bly ‘n fassinerende verhaal.

Vir eers wil die verhaal sê dat God in drome met mense kan praat.

Hoeseer ons ook vandag – danksy die sielkunde – weet dat drome die stem van ons onderbewussyn is, daardie verdronge en verborge verlangens en steurnisse van ons daglewe wat nou in die nag kom aandag vra, kan dit vir die gelowige tog méér beteken.

Veral wanneer ons die Bybelse waarheid ernstig neem dat God deur sy Gees in ons woon, dat God in ons gevoelens en deur ons gewaarwordings met ons kan praat, sal dit goed wees om ons drome ook vanuit daardie hoek te verstaan.

Vir Jakob was sy droom ‘n troosvolle, ongelooflike versekering van God se kant af dat, ondanks sy bedrog, die pad na God nog nie gesluit was nie. Trouens, die sterk beelde in sy droom van ‘n leer tussen hemel en aarde en engele wat op en af beweeg, sê presies dit: Dat die weg na God steeds oop was, dat God nog steeds aan hom gedink het en by hom wou wees.

Jakob het dit allermins verwag. Vandaar sy vreesbevange woorde dat God op daardie plek was, terwyl hy dit nie besef het nie (Gen 28:16).

Maar so kan die genadige God ons dikwels verras en selfs oorrompel – in die skrik en troos van ons drome.

Here, dankie dat U altyd by ons is, ja dat U selfs in ons drome na ons toe kom en met ons praat. Help ons om u stem ook dáár te hoor. Amen.

Carel Anthonissen