Home » Januarie » Die duiwel van die middaguur

Die duiwel van die middaguur

U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis. U gramskap rus swaar op my (Psalm 88:7-8).

Nou verwant aan die geloofstwyfel waarvan die Bybel ons vertel, is wat die ou kerkvader Casius “the spirit of accidie” genoem het.

Die Griekse woord akedia dui op die moegheid en moedeloosheid wat die mens se gees soms oorval en wat jou kan beroof van enige hoop en entoesiasme vir die lewe – byna soos die hitte van ʼn baie warm dag wat jou na liggaam en gees totaal uitput.

Die ou woestynvaders het hierdie aanvegting goed geken. Hulle noem dit dan ook “die duiwel van die middaguur”. Simptomaties van hierdie aanvegting, so het hulle ervaar, is geestelike luiheid, onvrugbaarheid en selfs onverskilligheid. Die gelowige word traag om te bid, raak sinies en negatief teenoor die lewe en begin kla oor ander. Asof húlle vir jou moeë gees verantwoordelik is.

Ironies genoeg is dit, volgens Casius, presies die plek waar die gelowige weer moet begin leer hoe om te ontsnap aan hierdie “foul darkness”. Hoe? Deur doelbewus uit te reik na ander, spesifiek dié wat in nood is. In sy woorde:

The disease suggests that he ought to show courteous and friendly hospitalities to the brethren, and pay visits to the sick, whether near at hand or far off … he ought piously to devote his time to these things.

Here, bewaar ons vandag van geestelike moegheid en onverskilligheid. Help ons om daaraan te ontsnap deur in liefde na ander uit te reik. Amen.

Carel Anthonissen