Home » Julie » Wanneer die leuen ons waarheid word

Wanneer die leuen ons waarheid word

Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk, maar daarbinne vol doodsbeendere en allerhande onsuiwerheid is (Matteus 23:27).

Ek staan telkens verbaas wanneer mense, sommige selfs hoogs geleerde mense, mekaar in ʼn hofgeding duidelik weerspreek. Iewers, so voel dit vir my, word die waarheid doelbewus verhul en lieg iemand openlik.

Of kan dit wees dat mense hulle eie leuens glo en selfs verbete daaraan vasklou as ʼn eie en egte waarheid, en dit sonder enige gewete of ʼn sweempie van skuldgevoelens?

Volgens sekere geleerdes is dit wel moontlik.

Dit gebeur wanneer mense so vervreem is van hulleself, so verstrik geraak het in hulle verwarde dubbelslagtigheid, dat die onderskeid tussen reg en verkeerd, tussen waar en onwaar, vir hulle vervaag en selfs verval. En hulle dan, ter wille van eiebelang en oorlewing, blindelings begin vasklou aan húlle herinnering, vertolking of weergawe van ʼn gebeurtenis – selfs al is dit verdraai en leuenagtig.

Selfs al kom dit neer op selfbedrog.

Waarskynlik dra ons almal die kiem van hierdie gevaarlike dubbelslagtigheid in ons rond. Die kuns is om nie toe te laat dat die negatiewe in ons lewe so oorheersend raak dat dit alle normale en nugtere rede verdring en ons ons leuens as ʼn onverbiddelike waarheid begin glo en verdedig nie.

So beland ons, meestal onbewustelik, in die geledere van die skynheilige Fariseërs.

O Here, bewaar my vandag van die gevaar van selfbedrog en skynheiligheid. Gee my ʼn rein hart en vernuwe elke dag ʼn bestendige gees in my binneste. Amen.

Carel Anthonissen