Home » Junie » Vervloekte Verlosser

Vervloekte Verlosser

“Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is” (Gal 3:13).

Elke faset van Jesus se kruisdood onderstreep die diepte van die lyding wat Hy moes deurmaak. Die aspek wat ons as mense miskien die maklikste kan begryp, is die menslik-biologiese sy. Die kruisdood was een van die wreedste metodes van Romeinse teregstelling. Ondraaglik vir enige menslike liggaam. ’n Uitgerekte, folterende dood deur spierspasma en versmoring, bloedverlies en skok weens pyn. 

Daarbenewens was daar nog die skande wat aan hierdie vorm van dood gekleef het. Iemand wat gekruisig is, is só in die openbaar vertoon dat almal wat hulle gesien het, hulle kon spot. Daarmee is hulle as misdadiger gebrandmerk, dikwels ook as ’n politieke vyand van die Romeinse staat. Iemand wie se bestaan ongewens was …

Maar Jesus se lyding gaan nog dieper as dit. Sy kruisdood is ’n simbool van die vloek van God se oordeel wat Hom getref het vanweë die sonde van die wêreld. Die apostel Paulus het Jesus se lyding by uitstek só verstaan: dat Jesus gesterf het onder die vloek van God. Daarom haal hy in Galasiërs die woorde uit Deuteronomium 21:23 aan, wat dit duidelik stel dat elkeen wat “opgehang” word (aan ’n kruis), vervloek is …

En die merkwaardigste van alles is: Jesus aanvaar dit alles gelate! Tydens sy verhoor swyg Hy merendeels. Hy beaam die vloek van God, omdat Hy geweet het dat die sonde van die wêreld inderdaad vloekwaardig en doemwaardig was. Dat daar veral net een manier was waarop die vloek van die mense gelig kon word. Iemand moes sterf …

Jesus se kruisdood is ’n simbool aan van die vloek van God se oordeel oor die wêreld – wat Hom getref het.

Here Jesus, ek is vloekwaardig, maar vry. Omdat U my vry gemaak het. Dankie. Amen.

Johan Cilliers