Home » Junie » Die Bose se blus is uit

Die Bose se blus is uit

“Ek het die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val” (Luk 10:18).

Wat op Golgota gebeur het, het vir die wêreld gelyk soos ’n oorwinning vir die Bose. Want is die Seun van God dan nie hier gedood nie? Is sy boodskap dan nie hier in sy bloed versmoor nie? Wat kan tog ’n groter neerlaag wees as … die dood?

En tog het dit maar net so gelyk. Want uit die skynbare neerlaag kom die oorwinning! Benewens die objektiewe en subjektiewe sy van die gebeure op Golgota (dit wil sê, dat Christus vir my gesterf het, en dat ek dit moet glo) is daar ook die element van die triomf oor die Bose. Deur die optrede van Jesus het die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel geval (Luk 1:18), is hy van sy (gewaande) troon gestoot. 

Dit word natuurlik veral duidelik met die opstanding van Jesus uit die dood. Maar reeds op hierdie punt weet ons al: God kan uit selfs die donkerste situasie, ja, ook uit die dood en die graf, nuwe lewe, nuwe moontlikhede, nuwe hoop skenk.

Dalk voel jy tans die kruis wat jy moet dra, druk swaar op jou. Dalk voel alles vir jou donker, sonder selfs ’n speldepunt van lig. Weet dan dat God dit alles kan verander en volgens sy wysheid sal verander.

Weet ook dat Hy veral jou hart sal verander.

Hy sal jou geloof versterk sodat jy jou situasie sal kan verdra. Hou dit in gedagte: Die kruis is die teken van die Bose se ondergang.

Satan se blus is uit. Jesus het die Bose oorwin! Hy is mans genoeg vir en opgewasse teen die donkerste werklikheid …

God kan selfs uit die donkerste situasie nuwe hoop skenk.

Here Jesus, ek dank U vir die troos dat die Bose se duiwelstreke eintlik niks anders is nie as sy laaste stuiptrekkings. Amen.

Johan Cilliers